top of page

Waar is die juffrou?

  • Jul 12
  • 3 min read

As ’n onderwyseres het ek altyd die antwoord in die handboek gaan soek. Ek kon vir jou die volledige Krebs-siklus uitlê, die reëls van Mendel se genetiese oorerwing opnoem, of die presiese hormonale biochemie van ’n deursnee-tiener in die hitte van ’n detensieklas ontleed.

Ek was nie sommer net ’n juffrou nie; ek was ’n gebore opvoeder. My gunsteling-habitat was die klaskamer, en my gunsteling-spesie was die "stroomop-kinders" – daardie rebelse siele wat ander onderwysers grys hare gegee het. Ek het vir hulle in die personeelkamer baklei. Ek was die trotse "skoolmamma" wat geglo het dat daar vir elke gedragsprobleem ’n wetenskaplike of remediërende oplossing is. Met elke vesel in my liggaam, was ek 'n juffrou.


Dit blyk toe die heelal het ’n besonder donker sin vir humor.

Vandag stap ek nie meer die gange van ’n hoërskool nie. My lewe is tans ’n lewendige, onvoorspelbare eksperiment wat minder soos ’n klas voel en meer soos die Mal-Hoedemaker se teepartytjie in Alice in Wonderland. Ons is nou al elf jaar op hierdie reis, en die gastelys van diagnoses by ons tafel is indrukwekkend: Au-DHD (vlak 2), PDA (Patologiese Aanvraagvermyding), Bipolariteit en DMDD.


As Biologie-juffrou het ek gedink ek weet iets van chemie, maar niks kon my voorberei op die daaglikse skemerkelkie wat ek nou moet skink nie. My oggende bestaan nie meer uit register merk nie, maar uit die uitdeel van ’n streng beheerde apteek-inventaris: Camcolit 650mg, Arizofy 5mg, Haloperidol 1.5mg, Menograin en ’n stewige dosis Concerta 36mg. "Maak mooi oop en sluk," is my nuwe weergawe van "Haal uit julle handboeke en maak oop op bladsy vyftig."


Die grootste, pynlikste ironie? Die einste vaardighede wat my ’n briljante onderwyseres gemaak het, is presies dit wat ek nou moet uitskakel. Die kundiges sê ek moet terugstaan. Ek mag nie hier die "juffrou" of die "remediërende spesialis" wees nie. Ek moet net "mamma" wees. En laat ek jou vertel: om net "mamma" te wees kom glad nie natuurlik as jou natuurlike instink is om ’n klaskamer van dertig raserige tieners met een kyk te regeer nie. Ek voel magteloos, asof ek met ’n handvol kwalifikasies op die kantlyn sit terwyl my eie kind stroomop swem in ’n rowwe see wat ek nie kan kalmeer nie. En wanneer daardie see stormagtig word, raak die teepartytjie intens. Ons praat nie hier van oulike klein tantrum piesang-gevegte nie; ons praat van die donker realiteit van neurodiversiteit: intense woede-uitbarstings, regressie, hospitalisering, dissosiasie en selfskending.


Die horlosie se wysers draai deesdae dikwels agteruit. Tik... tok... "Happy un-birthday!" En die gaste wat eens om my pragtig gedekte verjaardagtafel gesit het? Weg. Al my vriende en familie het die vlaktes in gehardloop. En eerlikwaar? Ek neem hulle nie eers kwalik nie. Sommige van hulle het ek self weggejaag – bloot vir hul eie veiligheid wanneer die storms tref. Jy weet jou sosiale lewe is in sy peetjie as jou enigste gereelde eksterne interaksie met psigiaters en sekuriteitspersoneel in die hospitaal is.


So, wie is ek as die skoolklok vir altyd stilbly en die teepartytjie al die gaste verdryf het?

Wie is ek nou?


Miskien is ek nie meer die juffrou wat die antwoorde agter in die handboek opkyk nie. Miskien is ek nou self die stroomop-leerling. Ek leer hoe om te dissosieer van my eie verwagtinge, hoe om te glimlag te midde van die chaos, en hoe om te oorleef wanneer die wetenskap faal en net rou uithouvermoë oorbly. Ek is dalk gestroop van my klaskamer, maar ek is steeds ’n vegter. En selfs hier by die Mal-Hoedemaker se tafel, met ’n stukkende koppie teepot in die hand, weier ek om tou op te gooi.

Wie is ek? 2026. Suid-Afrika.

Diagnose: Al die afkortings.

Comments


bottom of page