top of page

Die Ek-Etiket

  • Jun 30
  • 3 min read

Hier is ek. Vrou. Survivor. Draer van allerhande etikette. Blond, maar nie dom nie. Maer, maar nie honger nie. Taalliefhebber, maar nie puris nie. Konserwatief, maar oopkop. Dit is wie ek nog altyd is. Was. Nee, IS. Ek is wie ek nog altyd was, maar ek is ook sterker en meer bewus as vantevore. Ryker. Meer ervare.  Ek weet sonder twyfel: ek pas nie in ’n boksie nie. Ek het nog nooit nie. Nie ek nie, en nog minder my kind.

 

As ma van ’n neurodiverse kind leef ek daagliks in ’n wêreld wat obsessief is oor diagnoses, boksies en definisies. Van die oomblik dat jou kind buite die sogenaamde 'norm' val, probeer die samelewing ’n handleiding op jou afwing. Die woord 'neurodivers' self het vir baie mense net nog ’n boksie geword – ’n kliniese stempel wat alles van my kind moet verklaar. Wat my egter die meeste irriteer is hoe die samelewing hierdie etikette misbruik. Hulle wil alles kategoriseer om dit vir hulleself gerieflik te maak. Die diagnose is ‘n etiket wat jou simptome verklaar en jou in die regte rigting laat kyk. Dis nie ‘n oplossing nie. Dis nie ‘n verskoning nie. Tog gebruik “hulle” elke moontlike opskrif en etiket om “ons” te verklaar. Te verduidelik. Nie noodwendig te verstaan nie.

 

Ironies as jy my vra wie ek is, sal ek jou vertel dat ek ’n anti-labelist is. Ek verpes etikette. Want hoe op aarde etiketeer jy jouself as jou hele lewe en die grootmaak van jou kind juis gaan oor die afbreek van daardie selfde kunsmatige grense? En op dieselfde manier bied die grense jou verduidelikings wat so min mense werklik verstaan. ‘n Oksimoron, met meer moroon as oksi.

 

 

Ek kyk na al die woorde wat mense so maklik as stempels op ons plak: pienk, vroulik, brunette, maer, gestremd, disleksies, stylvol, gelowig, skeef, neurotipies, normaal, hardkoppig, regs, seksisties... En diep in my binneste voel ek ’n intense drang om op te staan en te gil. Ek wil elke etiket wat enige iemand al ooit op my of my kind geknoop het, met ’n enkele beweging saam met hulle afruk. "Off from your forehead!" wil ek skree. Want wie is jy, en wie is my kind, op die diepste sielsvlak, as jy al daardie etikette van die wêreld wegstroop? Ons is soveel meer as die mediese of sosiale terme wat mense as filters gebruik om na ons te kyk.

 

Ek weet ek is ’n diepsiel. Miskien is my eie intense manier van dink en voel juis die rede waarom ek my kind so intens verstaan. Vir die meeste mense is ek dalk soms ’n bietjie "te" – te intens, te hard, te diep. Maar ek het vrede gemaak met daardie aspek van myself. Daarom kies ek om dikwels eerste in gesprekke dieper dinge oor myself te noem, voordat ek sommer net die oppervlakkige dinge deel. Ek gooi my kaarte dadelik op die tafel. Vir my is dit ’n redding; dit skei vinnig die kaf van die koring. Dit wys my dadelik wie my en my kind se neurodiverse wêreld met egtheid kan hanteer, en red my uit sieldodende, oppervlakkige geselsies.

 

My pad as ma is nie sonder stryd nie. Elke keer as ek my alles – my rou gedagtes, my stryd, my weiering om aan te pas – hier buite in ’n virtuele ruimte plaas, gryp die Rooi-Koningin-van-vrees my hardhandig om die keel. Sy is die verpersoonliking van die samelewing se koue oordeel, die wrede stem wat my wil dwing om stil te bly en net gehoorsaam in die ry te staan. Ek hoor haar reeds in my agterkop eggo, die kritiek van mense wat dink ek gebruik ons realiteit vir simpatie of drama:

  • "Mense gaan dink jy soek net aandag."

  • "Seepkissie!"

  • "Verhoog!"

  • "Teatraal!"

Die Rooi-Koningin wil hê ek moet my kop buig en my kind in hul boksie laat toesluit. Maar wanneer sy my om die keel gryp, draai ek die woorde teen haar om. "Off with her head!" eggo dit in my binneste. Dit is my eie weiering om voor haar tirannie te swig. Dit is my weiering om toe te laat dat die vrees my of my kind se stem stilmaak.

 

Ek en my kind sal nie in boksies pas nie, nie eers in die boksie van 'neurodiversiteit' as die samelewing dit as ’n kruk vir hul eie tekortkominge wil gebruik nie. Ons is nie ’n lysie definisies, simptome of diagnoses nie. Ek is ’n diepsiel, rou en eg, en ons staan albei vry van die etikette van die wêreld. Of is dit juis ‘n etiket?

 

Wie is ek? 2026. Suid-Afrika.

Diagnose: Etiketering.


Comments


bottom of page