Wie is ek NIE?
- Jun 18
- 3 min read
In Alice in Wonderland is die konfrontasie met die frase "Wie is jy?" (oorspronklik "Who are you?"), wat deur die Ruspe gevra word, die kernoomblik wat Alice se diep eksistensiële krisis blootlê. Hierdie oënskynlik eenvoudige vraag dwing Alice om te erken dat sy weens haar konstante fisiese veranderinge en die absurde reëls van Wonderland nie meer weet wie sy self is nie. Dit verander die storie van 'n blote fantasieverhaal na 'n diepe verkenning van identiteit, die oorgang van kindertyd na volwassenheid, en die verlies van selfkennis in 'n verwarrende wêreld.

Ek staar ure lank na die woorde: ”Wie is jy?”
Ek lyk nie soos Alice nie. My ruspe is 'n kort, dik wurm met 'n masker vir 'n gesig. Die Temu-weergawe van 'n eens wonderlike verhaal. WIE IS EK?
Ek bewapen myself met pen en papier en sit vir ure lank en kyk na hoe lyne op die wit papier begin swem, maar geen woorde verskyn uit my ink nie. Mamma. Dis wat vorm aanneem. Is dit al wat ek is? Wie is ek? Die instruksie van die terapeut. Begin net met woorde. Sinne. Teken iets. Skryf dit net neer.
Wie is jy?
Ek worstel met hierdie vraag tot in Wonderland om net weer tussen geskribbelde letters, woorde, sinne en frases van “net mamma” myself te probeer vind. Ek kyk in die spieël. Draai die spieël om en onderstebo. Benader die vraag uit ander hoeke, ander perspektiewe, ander lense. Die beeld wat ek sien is egter ‘n mallemeule, warboel van woorde en etikette wat niksseggend en sinneloos oor die gladde oppervlakte gly en net eenvoudig nie wil stilstaan nie. Ek is nie oppervlakkig genoeg vir sinnelose woorde op ‘n papier wat nie een enkele probleem gaan oplos nie. Ek is net nie…
'n Waansinnige oomblik van onderrig en kennis deel:
Die idee dat ons onsself definieer deur dit wat ons nie is nie, spruit voort uit 'n mengsel van antieke mistisisme, teologie en moderne sielkunde. Dit het omstreeks 700 v.C. in die Hindoe-filosofie begin as Neti Neti ("nie dit nie, nie dat nie"), 'n meditatiewe praktyk om fisiese en emosionele herinneringe of gehegthede te stroop om die ware self te vind. Hierdie benadering het later in die Westerse teologie herrys as Via Negativa, waar geleerdes die goddelike en die menslike ego gedefinieer het deur vals eienskappe uit te skakel. Teen die 20ste eeu het moderne sielkundiges soos Carl Jung en Carl Rogers hierdie raamwerk aangepas en bewys dat persoonlike groei plaasvind wanneer ons maatskaplike maskers afgooi, eksterne verwagtinge verwerp en die "vals self" elimineer.
Ja, ek spring rond, want ek dink ek is self ADHD en my albasters is nie almal op hok nie, maar ek skryf want dit is al wat ek het in die mallemeule van my wêreld. En ek kan nie nog ‘n diagnose oorleef nie. So ek skryf, want miskien gee dit ‘n ander mamma die hoop, moed, durf… om ook te kan skryf wat sy NIE is nie. Ek is nie histeries nie. Ek is nie mal nie. Ek is nie 'n mislukking nie. En skielik kom die woorde.


Mag jy my woorde waardevol vind en ontvang, met die egtheid waarmee ek dit deel. Mag dit jou aanspoor om jou eie "Ek is NIE" te skryf.
Dis 'n jaar vandat ek daardie lys gemaak het. Ek het 'n diep behoefte om dit te deel, met enige iemand wat waarde daarin kan vind. Miskien om sommer net ook dele van jouself, op hierdie eenvoudige manier te ontdek. Jy, ouer van 'n kind, met of sonder spesiale behoeftes, is nie net ouer nie. Jy is jy. En jy is NIE mal nie!
Tot volgende keer.
Wie is ek? Suid-Afrika. 20voertsek tot nou.
Diagnose: ASD. ADHD. ODD. PDA. Bipolêr.
Comments