Onwelkom
- Jun 26
- 2 min read

Toe skaduwees verdwaal het in hospitaalgange
Toe die dood sy gesig teen die venster kom druk het
Toe trane droog geword het op Netcare-kussingslope
Toe die toekoms oor my kind onseker was
was ek daar.
Toe verpleegstershande my baken van hoop was
Toe die blomme pap geword het in generiese vase
Toe die hartmonitor se ritme jou gebed geword het
Toe ‘n klein lyfie verbete geveg het
was ek daar.
Toe ‘n babastoeltjie eindelik in ‘n kar gelaai is
Toe ‘n houtbedjie eindelik ‘n asempie ontvang
Toe ‘n sagte teddiebeer sy promosie vind
Toe ‘n huis eindelik ‘n tuiste word
was ek daar.
Toe die kleuter verbete teen die wêreld veg
Toe die kos orals behalwe in die maag wou bly
Toe die ogies net op sy vingers bly fokus
Toe die handjies net sy ore wil toedruk
was ek daar.
Maar nou dat die diagnose erger is as NICU
Nou dat die versorging haas onmoontlik volhoubaar is
Nou dat vriende vreemdelinge geword het
Nou dat ‘n brein onverklaarbaar ongeneeslik is
Nou dat my eie varke met moeite (en pille) op hok bly
Nou dat ek enkelouer (nie uit keuse nie) is
Nou dat my kind NEURODIVERS is
Nou is ek nie meer welkom nie.
Digkuns. Ware Verhaal.
Bloemfontein, Suid-Afrika. Oktober 2000.
Diagnose: Ernstige Selfbeserende Gedrag.
*** My seun het reeds op 5-jarige ouderdom tekens getoon van selfbeserende gedrag en is op 7 permanent in versorging geplaas. Ek kon in die eerste paar jaar hom daagliks besoek, maar toe sy hormone inskop, wou hy my nie sien nie en het my teenwoordigheid hom so ontstel dat hy sy kop deur 'n venster stukkend geslaan het. Hy moes 32 steke kry. Hy is in 2012 in sy slaap oorlede, oorsake onbepaald. Ek het hom in 2008 vir die laaste keer vasgehou. My arms sou nooit weer dieselfde voel nie.
Comments