top of page

Onwelkom

  • Jun 26
  • 2 min read












Toe skaduwees verdwaal het in hospitaalgange

Toe die dood sy gesig teen die venster kom druk het

Toe trane droog geword het op Netcare-kussingslope

Toe die toekoms oor my kind onseker was

was ek daar.

 

Toe verpleegstershande my baken van hoop was

Toe die blomme pap geword het in generiese vase

Toe die hartmonitor se ritme jou gebed geword het

Toe ‘n klein lyfie verbete geveg het

was ek daar.

 

Toe ‘n babastoeltjie eindelik in ‘n kar gelaai is

Toe ‘n houtbedjie eindelik ‘n asempie ontvang

Toe ‘n sagte teddiebeer sy promosie vind

Toe ‘n huis eindelik ‘n tuiste word

was ek daar.

 

Toe die kleuter verbete teen die wêreld veg

Toe die kos orals behalwe in die maag wou bly

Toe die ogies net op sy vingers bly fokus

Toe die handjies net sy ore wil toedruk

was ek daar.

 

Maar nou dat die diagnose erger is as NICU

Nou dat die versorging haas onmoontlik volhoubaar is

Nou dat vriende vreemdelinge geword het

Nou dat ‘n brein onverklaarbaar ongeneeslik is

Nou dat my eie varke met moeite (en pille) op hok bly

Nou dat ek enkelouer (nie uit keuse nie) is

Nou dat my kind NEURODIVERS is

Nou is ek nie meer welkom nie.

Digkuns. Ware Verhaal.

Bloemfontein, Suid-Afrika. Oktober 2000.

Diagnose: Ernstige Selfbeserende Gedrag.  


*** My seun het reeds op 5-jarige ouderdom tekens getoon van selfbeserende gedrag en is op 7 permanent in versorging geplaas. Ek kon in die eerste paar jaar hom daagliks besoek, maar toe sy hormone inskop, wou hy my nie sien nie en het my teenwoordigheid hom so ontstel dat hy sy kop deur 'n venster stukkend geslaan het. Hy moes 32 steke kry. Hy is in 2012 in sy slaap oorlede, oorsake onbepaald. Ek het hom in 2008 vir die laaste keer vasgehou. My arms sou nooit weer dieselfde voel nie.

Comments


bottom of page