top of page

Koeie op rollercoasters

  • Jul 4
  • 3 min read

Breytenbach, Totius, Langenhoven... Ek het altyd ’n baie spesifieke droom gehad oor my lewe as ’n ma. In hierdie idilliese prentjie sit ek op ’n reënerige middag op die bed, ’n warm koppie tee in die hand. My pragtige kind sit knus teenaan my en lees die skone letterkunde met passie en vloeiendheid voor. Die sonlig skyn net reg, die atmosfeer is gevul met intellektuele stimulasie, en die alfabet maak volmaakte, harmonieuse sin. In my droom is daar 'n worshondjie wat kalm op die matjie voor die bed geslaap het, terwyl die wit beddegoed vlekkeloos bly, want koekies maak nie krummels nie, tee los nie vlekke nie en vuil voete vee nie af nie.


Toe tref die werklikheid my voortande soos 'n MMA vegter sonder genade. Een wat hopeloos te veel energiedrankies gedrink het en waarskynlik ADHD het. 'n Koei wat uit 'n tornado teen my voorkop slaan, onverwags en sonder waarskuwing.


Die droom van die perfekte alfabet het vinnig plek gemaak vir ’n daaglikse geveg om letters regop te hou. En glo my, dit is bitter moeilik om simbole te balanseer in ’n brein wat op daardie presiese oomblik skommel soos ’n koei op ’n rollercoaster.

Kom ons praat oor die berugte akrobatiese vierstuks: p, b, q en d.

Vir die gemiddelde mens is hierdie vier letters betroubare burgers van die samelewing. Hulle staan waar hulle moet staan en doen hulle werk. Maar in ons huis? In ons huis is hulle ’n bende onnutsige gimnaste met ’n ernstige identiteitskrisis. Vir my kind is hulle basies dieselfde letter wat bloot kies om elke vyf sekondes ’n ander toertjie te doen.


Net as ons dink ons het die b uiteindelik vasgemaak sodat hy regs kyk, besluit sy maag om om te draai. Skielik is hy ’n d. Die p dink blykbaar hy hang aan ’n oefenbalk, swaai sy bene op, en verander in ’n q. Dit is koeie op 'n rollercoaster waar een melkskommel en 'n ander poeiermelk vervaardig. Maar sonder waarskuwing, sin, rede, patroon, of plah-qlah-blah.


Huiswerktyd is dus nie vir sissies nie. En dit laat my dikwels soos 'n koei voel. Een wat suurmelk gee terwyl die kinders eintlik net wil speel. Dit is die oomblik waar ek my innerlike sielkundige, gids, akteur en rasieleier gelyktydig moet uithaal. As die woord “kat” skielik as “tak” gediagnoseer word, kyk ek en my kind mekaar net aan. Ek sien die absolute verwarring in daardie oë, en ek besef: vandag is die koei op die rollercoaster besig met ’n loop-the-loop. En al wat ek kan doen, is om vas te hou vir 'n dierbare lewe. En dan weet ek sommer dat ek iewers in die week 'n e-pos gaan kry oor 'n vloekwoord wat in 'n boek verskyn het, want t en k en -ak veroorsaak nie net verwarring nie, maar ook ktatk.


Soms vang ek myself dat ek ook na die bladsy staar en begin twyfel. Kyk daardie stokkie nou links of regs? Is ek self besig om te skommel? Twyfel ek in my eie alfabet en is die alfabet die koei s'n?


Maar te midde van die chaos en die letters wat algebraïese danse op die papier doen, is daar ’n baie unieke skoonheid. Want weet jy wat? Terwyl daardie brein sukkel om die p’s en b’s in ’n reguit lyn te dwing, dink dit terselfdertyd heeltemal buite die boks. Dieselfde kind wat vanoggend gestruikel het oor ’n drie-letter-woord, bou vanmiddag die mees ingewikkelde driedimensionele ruimtetuig uit Lego – sonder ’n instruksiehandleiding. Waar ek net swart letters op ’n wit bladsy sien, sien my kind die wêreld in lewendige kleure, vol patrone en oplossings waaraan ek nooit eers sou dink nie.


Miskien was Breytenbach ook 'n koei op 'n mallemeule. Wel, nie 'n koei nie, 'n bul. Miskien was sy letters dalk regop, maar sy kop was 'n droomwêreld van rooiborsduiwe en mal koeie wat moes sweet. Miskien was Langenhoven se alfabet ook soms onderstebo en het hy gedroom van 'n alfabet waar woorde nie moes rym om sin te maak nie. Miskien was Totius se wêreld nie sy woning nie, want die koei het dit ondraaglik gemaak om te slaap. Wie weet waar die droom eindig en die wonder van 'n proon of boorm begin?


Droom. 2026. Vancouver, Kanada.

Diagnose: Disleksia. ASD.


Comments


bottom of page