top of page

Superman

  • May 29
  • 3 min read

Ek kan alle krom pype reguit buig met bonatuurlike krag in my arms. Ek kan stukkende karre met die knip van my linkeroog weer laat klink soos 'n spliknuwe Ford. Vir my hele familie, en eintlik die hele dorp, is ek die man met die goue hande. Mense bring vir my horlosies wat twintig jaar gelede opgehou tik het, en binne vyf minute sing die ratte weer teen 'n pols. Ek sit stukkende tafels aanmekaar sonder lym. Ek dwing gebarste mure met een stewige druk van my handpalms terug in hulle belyning. Daar is geen enjin, geen pyp en geen struktuur wat my krag of my oog kan weerstaan nie. Ek maak heel wat stukkend is.


Ek is Superman. Ek kan blaffende honde twee uur in die oggend stilmaak. Ek kan asdromme wat omgeval het met my voorvinger optel en die vullis met 'n asemteug optel. Ek het selfs klein Ulrich se gebreekte arm met 'n sagte streel geheel. Koffiebeker wat van die kas afgegly het en nou in stukke lê? Geen probleem nie, gee my 2 minute. Hemp sonder knoop? 2 sekondes. Ek draf die een probleem na die volgende kaf.


Behalwe vir die dinge wat jy nie kan sien nie.

Gisteraand het my dertienjarige dogter by die kombuistafel kom sit. Haar skouers was geboë, presies soos die ou koperpype wat ek smiddae met my kaal hande regtrek. Sy het nie gehuil nie, maar haar oë was dof. Sy het na haar breekbare selfoon gekyk, waar die harde woorde nog op die skerm gebrand het.


Ek het langs haar gaan sit. My hande, groot en grof, het op die houttafel gerus. Ek het gekyk na die foon, 'n ding van glas en plastiek en metaal, en ek het geweet ek kan die fynste mikroskyfie daarin met een kyk regmaak as dit sou faal. Maar die skerm was heel. Dit was die meisie agter die skerm wat stukkend was.


"Pappa," het sy fluisterend gesê, sonder om op te kyk. "Kan Pappa dit ook regmaak?"


My arms het swaar gevoel. Die bonatuurlike krag in my spiere was skielik nutteloos teen die gewig van haar hartseer. Ek kon nie my linkeroog knip en haar dadelik weer laat lag nie. Menswees het nie spaaronderdele nie. Jy kan nie 'n siel in 'n skroefbank vasklem en die krake uithamer nie.


Haar beste maatjie het sy eie lewe geneem. Die besonderhede lees soos 'n afgryslike toneel in 'n rillerboek. Ja, hy was neuro-divers. Ja, hy het professionele hulp gekry. Ja, hy was geliefd. Ja, hy het maats gehad. Ja, hy was net dertien. 13. DerTIEN. Nog 'n kind. Tog het die lewe so swaar op sy skouers gerus, dat hy nie uitkoms kon sien nie.


Ek het my groot, growwe hand oor haar klein handjie geplaas. Ek het nie probeer om die regte woorde te dink nie, want woorde is soms soos gereedskap wat die skade groter krap. Ek het net daar gesit. Ek het nie die horlosie aan die muur reggemaak toe dit middernag gaan staan het nie nie; ek het nie die katte stilgemaak wat buite mekaar begin jaag het nie. Ek het nie die skottelgoed gewas, of die kar vol petrol gaan maak nie. Die lewe moes net vir 'n oomblik stilstaan in hierdie gebroke toestand. Niks kan dit regmaak nie.


Ek wens ek was meer as Superman. Ek wens ek kon depressie se vingers breek. Ek wens ek kon kinders uit hul eie koppe red. Ek wens ek kon die brein beter verstaan... en regmaak as iets stukkend is. Maar ek kan nie.


Ek droom maar net dat my kind eendag sal terugdink en sal onthou dat ek nooit ophou probeer het om alles wat krom is, reg te buig nie. Al was ek selde suksesvol.


Droom. Gebaseer op 'n ware verhaal. 2025.

Gauteng, Suid-Afrika.

Diagnose: depressie


Comments


bottom of page