Skuldgevoel
- Jun 14
- 4 min read

My dag is ‘n onophoudende klankgreep. Vandat ek sesuur opstaan tot lank nadat die son ondergegaan het, is dit net klanke, letters, nommers… My seuntjie praat. Hy praat oor die ruimte, oor dinosourusse (ek weet nie eers of ek hier reg spel nie, ek gee nie om nie en ek sal dit nie verander nie), oor sy speelgoed, oor wat hy gister gesien het, en oor dinge wat net in sy ryk, lewendige verbeelding bestaan. Hy stop nooit nie. Selfs as hy asem skep, voel dit of sy gedagtes reeds met die volgende vyf sinne toustaan. Hy prewel tot in sy slaap. Dis asof sy tong die spier sonder ophou is. Die een massa wat nooit, ooit, ooit (ooooooit!) moeg word nie.
Hy is ’n absolute plesier—’n vrolike, pragtige kind vol energie en onwankelbare lewenslus. Ek is dol oor sy kreatiewe brein en sy unieke manier om na die wêreld te kyk. Maar teen drie-uur die middag voel my eie brein soos ’n radio wat op die verkeerde frekwensie vasgevang is. Dit is ’n rou, sielkundige moegheid wat in jou litte gaan sit. Dit is die tipe uitputting wat kom wanneer jou sensoriese stelsel vir tien ure aaneen oorlaai is.
Soms lei hierdie konstante stroom woorde tot oomblikke van pure, skreeusnaakse komedie waarvoor jy net kan lag. Soos die dag toe ons by die tandarts was. Enigiemand wat al in daardie stoel gelê het, weet dat dit die een plek is waar jy veronderstel is om stil te bly terwyl iemand met metaalinstrumente in jou mond rondkrap. Maar nie my seun nie. Met sy mond wawyd oop, drie vingers van die tandarts en ’n suigbuis tussen sy tande, het hy onverstoord voortgepraat. Dit het geklink soos ’n buitewêreldse dialek, ’n reeks "baba-wawa"-klanke, maar hy was besig om die arme, verwarde tandarts in fyn besonderhede te vertel presies hoe T-Rex sy prooi gevang het. Die tandarts het later met trane in sy oë van die lag vir my gesê hy het nog nooit ’n pasiënt gehad wat ’n hele paleontologie-lesing deur ’n suigbuis kon lewer nie.
Maar die ander kant van daardie selfde munt is donkerder, en dit tref jou op plekke waar jy broos is. Ek onthou een spesifieke Sondag in die kerk. Dit was ’n oomblik van stilte, daardie gewyde stilte net voor die skriflesing, waar jy die spreekwoordelike speld kan hoor val. My seuntjie se interne enjin het egter teen duisend omwentelinge per minuut gehardloop. Geen fluistering, druk teen my vas, of hand-oor-die-mond kon hom stop nie. Sy stem het helder en hard deur die kerk geklink terwyl hy vrae vra oor hoekom die dominee so lank praat en wanneer ons kan gaan eet. Ek kon die oë van die mense in die banke voor ons in my rug voel brand. Daardie koue, veroordelende kyke wat dink dit is bloot ’n gebrek aan dissipline. Ek het daar gesit met ’n knop in my keel, my oë vol trane van pure vernedering en magteloosheid, terwyl ek hom uiteindelik moes uitdra sodat die res van die gemeente kon aanbid.
Dit is presies in daardie oomblikke, wanneer ek vir net vyf minute se stilte smag, of wanneer die emosionele letsels van so ’n kerkdiens nog rou is, dat die stemmetjie in my kop begin fluister. “Jy is ondankbaar”. “Kyk hoe gelukkig is jy. Hy het darem net ADHD.”
En onmiddellik skop die skuldgevoel in.
Ek begin dink aan ander ouers in die neurodiverse gemeenskap. Ek dink aan ma’s en pa’s met kinders wat glad nie kan praat nie, of kinders wat intense fisiese en mediese sorg benodig. Ek dink aan gesinne wat daagliks deur gewelddadige ineenstortings of diep isolasie worstel. Teen daardie agtergrond voel my eie moegheid skielik soos ’n sonde. Ek voel skuldig omdat ek kla oor ’n kind wat bloot te veel praat en te veel energie het. Ek voel of ek nie die reg het om moeg te wees nie.
Maar hier is die harde les wat ek moes leer, en die rede hoekom ek hierdie skryf: skuldgevoel is ’n bliksem.
Om jou eie situasie teen ander se swaarkry te meet, is ’n gevaarlike speletjie waar niemand wen nie. Pyn, uitputting en die eise van ouerskap is nie ’n kompetisie nie. Daar is nie ’n troontjie of medalje vir die ouer wat die swaarste kry nie, en jou emosionele tenk raak nie minder leeg net omdat iemand anders se tenk op ’n ander, meer intense manier leegtap nie.
Die werklikheid is dat om ’n kind met ADHD groot te maak, sy eie, unieke vorm van chroniese stimulasie-oorlading bring. Dit vereis konstante regulering van jouself om húlle te help reguleer. Dit beteken dat jy heeltyd "aan" moet wees. En dit is heeltemal oukei om te erken dat dit jou moeg maak. Jy mag gefrustreerd wees oor die konstante geraas, sonder dat dit beteken jy het jou kind minder lief.
Ek is intens dankbaar vir my praterige, lewendige seuntjie. Ek sal sy stem en sy sprankel vir niks in die wêreld wil verander nie. Maar ek gee myself vandag, en vir al die dae wat kom, amptelike toestemming om intens dankbaar te wees, én intens doodmoeg te wees. Sonder die bliksemse skuldgevoel.
Ware Verhaal. 2025.
Suid-Afrika.
Diagnose: ADHD
Comments