top of page

Perfek

  • Jun 10
  • 2 min read

Ek word wakker nog voor die wekker lui. Nie met die gewone oom-wat-40-Peter Stuvesant’s-rook-hoes of hare wat lyk soos ’n voëlnes wat deur ’n weerligstraal getref is nie. Nee, ek sit regop met perfekte grimering, vars asem, en sonder daardie permanente donker kringe onder my oë wat gewoonlik lyk asof ek deel is van ’n geheime boksgeveg-nagklub.

Ek staan voor my kas en maak nie saak wat ek van die hanger afhaal nie, ek lyk perfek aanmekaar gesit. My metabolisme hardloop vinniger as ’n skinderstorie op die dorp. Ek lyk fenomenaal in enige stel klere—selfs daardie stywe, wit linnebroek wat in die regte lewe net vir my "gevaar, moenie sit nie" skree. Ek dra hakskoene met gemak kombuis toe, want ek het nie meer bunions nie. 


My kinders word wakker, glimlag, en bedank my spontaan vir die voorreg van lewe en die heerlike ontbyt wat ek bedien. Hulle klere vir die skool is reeds gestryk en niemand het hulle skooltasse of skoene verloor nie.Daar is nie een traan terwyl ek hare vleg nie. Ek hoef niemand te dreig om tande te borsel nie. Almal is betyds vir skool. Die kosblikke is perfek gebalanseerd en gesond. Die komkommers word in die vorm van sterretjies gesny en die biltong is organies.


Deur die loop van die oggend, balanseer ek die begroting, die hond word gebad, ek stuur twee boodskappe vir my skoonma, en lees die fynskrif van die nuwe tuindienste se kontrak sonder ‘n leesbril. My kar stink nie. Daar is geen ou McDonald's-papiere, sand van die skool-atletiek, of half-vrot piesangskille in die kar se deure nie. Dit ruik na nuwe leer en sukses.


Vir middagete, brand my rys nie. Elke korrel is perfek geskei, donsig en sag. Die potte blink soos die dag wat hulle uit die boks gehaal is. My melktert se kors is so perfek dit sing “Sarie Marais” as jy daardeur sny. Die tekstuur is so glad dit laat plaaslike bakkers huil van jaloesie. Dit het nie eers daardie rimpel-velletjie bo-op wat lyk soos ’n droë oupa-vel nie.



En toe... toe word ek wakker. Die rys van gisteraand sit nog vasgebrand aan die bodem van die pot. My een oog is toegeplak van die slaap, my kind skree hy kan nie sy linker-skoolskoen vind nie, en my klerekas vertel die hartseer tragedie van ‘n lewe voor kinders en begrotings. Ek sluk swaar aan die koue koffie, terwyl ek my neuro-diverse kind probeer McDonald’s nuggets voer. En ek sug so klein bietjie van dankbaarheid, want om perfek te wees is harde werk. Dis seker hoekom ek so moeg opgestaan het. 



Droom. 2026. 

Suid-Afrika. 

Diagnose: ASD, ADHD.


Comments


bottom of page