'n Halwe Woord
- May 26
- 2 min read

Hulle sê altyd ’n ma se intuïsie is ’n soort bonatuurlike krag. Dat jy jou kind se siel kan lees lank voor hulle selfs kan praat. Dis hoekom ma's hul kleuters kan verstaan. 'n Goeie begrip het mos net 'n halwe woord nodig. Wel, blykbaar het ek die opdatering vir daardie spesifieke sagteware gemis. As ma-wees ’n eksamen is, sit ek gereeld voor ’n vraestel wat in ’n antieke, uitgestorwe dialek geskryf is, terwyl ek krampagtig my potlood kou. Dis erger as wiskunde somme wat deur ‘n dinosourus van ‘n juffrou in geblomde bloese en Hush Puppie sandale op ‘n transparant geskryf word. Grieks. Nee, Hebreeus... met ‘n skoot Arabies.
Ek kritiseer myself gereeld. Soms dink ek my eie brein is net te lomp, te rigied, te... neurotipies. Ek probeer die wêreld deur jou oë sien, maar my lense is heeltyd op realiteit en ander gefokus. Neem nou maar die kombuis. Ek het ure spandeer om fynproewer-puree en organiese, gebalanseerde maaltye te tower. Die resultaat? ’n Absolute ineenstorting omdat die tekstuur van ’n ertjie blykbaar die kulinêre ekwivalent van hoogverraad is. Al wat jy wil hê, elke heilige dag, is droë rys. Wit, gestoomde, emosielose rys. Geen sous nie, geen sout nie, geen siel nie. Ek kyk na die bakkie rys, kyk na my handboek oor "Gesonde Voeding vir Kleuters", en wonder waar ek die resep vir my eie mislukking as kok en ma gaan vind.
Dan is daar die agterplaas. Terwyl ander ma’s op sosiale media foto’s laai van hulle kinders wat op die klimraam klouter, sit ek en kyk hoe jy blare op mekaar stapel. Nie net sommer so in ’n hoop nie. Nee, dit is ’n presisie-argitektoniese projek. Elke blaar moet teen die perfekte hoek lê. As die wind waai en die boonste blaar skuif, stort jou hele wêreld in duie, en ek staan daar met my hande in my hare, heeltemal magteloos omdat ek nie die taal van die blaarstapelaar praat nie.
En o, red my siel, sê nog ‘n Bybelversie op vir die hoop op geduld… die televisie. As ek nóg een keer daardie selfde storie van voor af moet kyk, gaan ek my eie hare uittrek. Jy kyk dit oor en oor en oor. Ek ken die dialoog al beter as die Onse Vader. Jy lag elke keer op presies dieselfde mikrosekonde. Ek probeer die patroon ontsyfer, probeer sin maak van die fassinasie, maar my stadige brein haal net nie die mas op nie. Ek voel soos ’n buitestander in my eie sitkamer, ’n indringer in jou voorspelbare, veilige sirkel.
Ek is veronderstel om die een te wees wat alles weet. Ek is die volwassene. Maar die waarheid is, ek dryf in die donker sonder ’n kompas. My verwagtinge van ouerskap was gebou op ou clichés en flieks wat glad nie voorsiening gemaak het vir die pragtige, komplekse legkaart wat jy is nie.
Hulle het gelieg... ’n goeie begrip het nie net ’n halwe woord nodig nie, want jy is van halwe woorde aanmekaar gesit en ek begryp niks. Tog is jy perfek in jou neuro-diversiteit, my halwe-woordjie-blaarstapelaar-kindjie.
Ware Verhaal. 2026.
Suid-Afrika.
Diagnose: ASD, SCD, SPD.
Comments