top of page

Die Groen Rok

49 minutes ago
4 min read

Die hangers in my kas maak ’n baie spesifieke klank as jy hulle vinnig opsy skuif. Klik-klik-klik. En daar, reg heel agter onder ’n laag beskermende plastiek, hang die Spook.


Dis nie ’n regte spook nie, natuurlik. Dis my matriekafskeidrok van 1988. Emeraldgroen taft, met pofmoue wat gelyk het asof ek twee massiewe spinasiekopslaaie op my skouers gedra het. In my kop was ek destyds die toonbeeld van hoë mode. In werklikheid het ek gelyk soos ’n baie formele groente. Vegans sal kwyl. Ek het daardie rok gehou vir een spesifieke rede: die Skatkis-teorie. Jy weet, daardie romantiese droom wat swanger vroue in flieks het waar hulle eendag vir hul tienerdogter sê: “Kyk hier, my skat, die rok wat my weggeneem het na ’n wêreld van volwassenheid. Jy mag dit dra.”


Wel, my dogter is nou sewentien. Sy gaan nie my groenslaai-rok dra nie. Sy gaan trouens glad nie na ’n matriekafskeid toe nie. My dogter is outisties en nie-verbaal. Vir haar is die idee van ’n skoolsaal vol flitsende ligte, dreunende basmusiek en die reuk van vyftig verskillende goedkoop parfuum nie ’n droom nie—dis ’n beskrywing van die hel. Haar idee van ’n perfekte aand is om in haar sensor-skoppelmaai te sit, die ritmiese klank van haar iPad-toepassing te luister, en die tekstuur van ’n baie spesifieke, gladde blou plastieklepel teen haar lip te voel.


Gisteraand het ek die blaarslaai-rok uitgehaal en dit teen my gehou voor die spieël. Ek het ’n bietjie gewig opgetel sedert ’n mens nog kon wegkom met pofmoue, so die rok het gelyk soos ’n groen tamatie wat op die punt van oopbars staan. Ek het in die spieël gekyk en die skielike, skoorsoekerige gons van ’n baie bekende hartseer in my keel voel opstoot. Dit is die “Verlore Mylpale”-hartseer. Die een wat jou tref as jy dink aan die dinge wat jy gedink het julle sou deel: ma-en-dogter inkopietogte, die stryd oor te veel grimering, die foto’s op die grasperk saam met ’n skaam seun in ’n gehuurde pak klere.


“Mamma se groen droom gaan maar in die kas bly vrot, nè?” het ek hardop vir die leë kamer gesê en ’n onnodige dramatiese sug gegee. Op daardie oomblik het my dogter by die kamer ingehardloop. Sy fladder haar hande vinnig langs haar ore—haar manier om te wys sy is opgewonde of dat haar interne enjin teen hoë tempo weghol. Sy het reguit na my toe gestorm, nie omdat sy my nostalgiese krisis raakgesien het nie, maar omdat sy die klank van die taft-rok gehoor het.

Ritsel-ritsel-ritsel.


Haar hande het oor die materiaal gegly. Ek het my maag spontaan ingetrek, maar duidelik het die gespanne strek oor my rolletjies (wat soos 'n 6-pak van Spar lyk) haar nie geskeel nie. Haar oë het groot geword. Vir ’n kind wat die wêreld deur teksture ervaar, was my 1988-katastrofe blykbaar die ekwivalent van pure goud. Sy het haar gesig teen die pofmoue gedruk en ’n lae, tevrede sug gegee.

“Hou jy daarvan?” het ek sag gevra. Versigtig. Ek wou haar nie afskrik nie en hierdie was die naaste wat ons aan fisiese kontak gekom het in maande.


Sy het my nie aangekyk nie—oogkontak is harde werk—maar haar hand het die naat langs my sy af gevolg. Dit was haar manier om te sê: Bly hier. Deel dit met my.


Toe kry ek ’n idee. ’n Baie slegte, baie impulsiewe idee.

Ek het die rok van my lyf begin aftrek. “Kom ons kyk,” het ek gesê. Ek het die rok oor haar kop gehou, sodat sy kon besluit of sy kans sien. Sy is lank en lenig, glad nie soos haar ma wat nou soos ’n stewige pampoen gebou is nie. Haar kop het geknik en haar arms het gestrek. Die rok het oor haar skouers gegly. Die pofmoue het dadelik haar arms ingesluk. Dit het haar perfek gepas. Was dalk effe te groot. Perfek vir haar sensitiewe vel.


Sy het stokstyf gaan staan. Ek het my asem opgehou, gereed om dit dadelik af te stroop as sy in ’n sensoriese ineenstorting in hardloop. Maar sy het nie. Sy het begin ronddraai.

Ritsel. Ritsel. Ritsel.


Die klank was vir haar soos musiek. Sy het vinniger begin draai, haar hande hoog in die lug. Sy het gelyk soos ’n smarag-groen aspersie wat deur my slaapkamer dans. Sy het begin lag—daardie diep maaglag wat sy net uitkry as sy heeltemal gelukkig is. En ek wat in Ouma-styl onderklere staan en toekyk... met 'n knop in my keel en trane van geluk in my oë.


Die rok gaan nie terug kas toe nie. Ek gaan wel nie professionele foto’s op Facebook kan laai om met ander ma's te kompeteer oor wie se dogter mooier lyk nie, maar my hart is tjok en blok propvol. Oorvol.


Ek het besef my droom was nie eintlik oor die rok of die geleentheid self nie. Dit was oor die vrees dat my dogter die vreugde van die lewe sou misloop. Maar tussen die geritsel van 1998 se taft en die skewe glimlag van 'n dansende bok choi met pofmoue weet ek: sy mis niks uit nie. Sy ervaar die wêreld net op haar eie, pragtige, pofmou-manier. En ek is dolgelukkig om haar dansmaat te wees.


Droom. 2025.

Standerton. Suid-Afrika.

Diagnose: Nie-verbaal. Outisties.



Comments


bottom of page