top of page

Tevrede

Aug 23
3 min read

Die stilte op die klein, tropiese eiland, was oorverdowend. Vir Melinda het hierdie reis na weke (maaaaande) se beplanning uiteindelik soos 'n realiteit gevoel. Haar beste vriendin het 40 geword, en Melinda moes twee jaar lank sente omdraai en spaar om die week-lange viering te kon bekostig. Omdat die wegbreek so lank neem om te realiseer, het sy besluit om die geleentheid aan te gryp en nog 'n week ekstra alleen by te voeg. Veertien dae van absolute vryheid.


Sy sou nooit hier gewees het sonder haar man se onvoorwaardelike ondersteuning nie. Toe sy twee jaar gelede skaam-skaam die idee geopper het, het hy nie vir een sekonde gehuiwer nie. "Jy gee elke dag alles vir ons kinders... doen dit," het hy gesê. Johan het die weke voor haar vertrek selfs roetine-kaarte saam met haar opgetrek en haar verseker dat hy die fort sou hou, selfs al het hulle albei geweet hoe uitputtend die sorg vir twee neurodiverse kinders in Melinda se afwesigheid sou wees. Die buurvrou sou help om 'n ogie te hou en diensbare, liewe Martha sou naweke ook inbly om te help.


Die eerste week was gevul met 'n diepe, amper skokkende sin van bevryding. Twee dinge in die besonder het Melinda bybly wat sy jare laas ervaar het. Eerstens was dit die vermoë om bloot op die strand te sit en ure lank na die branders te kyk sonder om heeltyd op die uitkyk te wees vir gevaarlike sensoriese snellers of potensiële meltdowns. Haar oë kon net rus op die horison. Tweedens was daar die pure luuksheid van 'n aandete saam met haar vriendinne waar sy 'n maaltyd kon geniet sonder om die kos se teksture vooraf te ontleed of angstig te wonder of die restaurant se agtergrondmusiek te hard is vir haar kinders. Sy kon net Melinda wees, nie "mamma" nie.


Maar die tweede week, toe die vriendinne vertrek en die eiland stil word, het die ander kant van die muntstuk gewys. Die skuldgevoel het soos 'n swaar grys wolk ingeskuif. Dit was 'n slegte, amper verlammende gevoel. Terwyl sy na die sonsondergang gekyk het, het haar gedagtes gejaag. Het Johan onthou dat die naat van Liam se kouse hom laat histeries raak? Het Mia haar streng skoolroetine gehou? Sy het haarself betrap dat sy skuldig voel oor die pure lekkerte van die stilte, asof dit verraad was om gelukkig te wees weg van die mense vir wie sy die liefste is.


Toe Melinda ná twee weke uiteindelik weer by haar eie voordeur instap, was die kontras reusagtig. Die huis was 'n voorspelbare chaos van raserige speelgoed en die klanke van 'n videospeletjie het deur die gang weerklink. Liam het haar dadelik hard geknak—'n rowwe maar opregte drukkie wat haar amper van haar voete af weggeslaan het. Mia het bloot styf van die bank af geknik en haar oorfone vir 'n oomblik gelig, haar eie unieke manier om te wys sy is bly haar ma is terug. Teen dag twee by die huis was die eiland-sonbril lankal weggepak en was Melinda weer vierkantig terug in haar ou, bekende, vervelig, tog strelende roetine. Sy was besig om kosblikke volgens presiese kleurvoorkeure te pak, klere met krapmerke uit te sny en visuele skedules vir die week op te dateer.


Dit was besig, dit was intens en dit was presies dieselfde veeleisende roetine wat haar twee weke gelede so uitgebrand gelaat het. Maar as sy nou in die kombuis staan en die chaos aanskou, het iets diep binne-in haar verander. In die weke op die eiland het sy besef sy het hierdie pragtige, unieke warboel eintlik verskriklik gemis. Die vakansie het haar nie laat ontsnap van haar lewe nie; dit het haar battery herlaai sodat sy die skoonheid in hulle unieke alledaagsheid weer kon raaksien. Sy het die chaos nou weer met 'n oop, geduldige hart waardeer, wetende dat sy 'n sterker ma is omdat sy haarself toegelaat het om eers net mens te wees.


Melinda is nie 'n karakter nie. Ek is Melinda. En ek vra myself wat erger is: Effe mal in die geraas? Of doof in die stilte? Goddank ek is sterk genoeg om effe mal te wees. Mal, maar tevrede.


Comments


bottom of page