Stilte
- Mar 26
- 3 min read

Dit vat 'n ouer om te weet hoe 'n "belaaide" stilte voel. Of ruik. Ek het al stilte geruik. Dit was al die tyd 'n peuter wat besluit het om die muur te verf met die boerboelagtige-baster (Buks) se... kom ons noem dit maar "besonderse groot meesterstuk". Klein neusies is duidelik nie senstitief vir 'n karnavoriese dieet van 'n brak wat vreet soos 'n blou walvis nie. Ekskuus BRAK. Dit was 'n GROOT hond, met GROOT dro...me. Kom ons noem dit maar "drome". Teen die tyd wat ek die reuk gevolg het, het twee wonderlike kinderhandjies patrone teen die muur, oor die bank op die stoep, asook die wit laken wat op die draad gehang het, getrek. Dank Vader vir parfuum wat aan die binnekant van 'n t-hemp gespuit kan word, want anders sou ek dalk nie met my middagete steeds in my maag kon klaar skoonmaak nie.
Ek weet ook hoe stilte klink. Ek het net my teekoppie in die wasbak gesit toe ek die split-splat van water hoor. My ore het gespits, my nekhare het gerys en ek het net geweet. My voete het my dadelik badkamer toe gedra en wrintie, daar word Buks se tande geborsel, kompleet met my man se tandeborsel en water vars uit die toiletbak. Nou kyk, vir so breukdeel van 'n sekonde het ek oorweeg om net foto's te neem, die tandeborsel terug op die kassie te sit en tjoepstil te bly... hy het immers my verjaardag vergeet... maar die borseltjies was duidelik vir Buks baie lekker, so ek dink nie ek sou daarmee kon wegkom nie.
Gepraat van my verjaardag. Ek het so peperduur, bloedrooi lipstiffie in 'n goue houertjie by 'n vriendin gekry. Ek het dit spaarsamig gebruik en elke keer netjies in die laai gebêre. Maar dis asof kinders mens se spesiale goedjies kan uitsnuffel. Dit moet 'n soort sesde sintuig wees, of iets. Maar so lei 'n stil huis my een oggend reguit kombuis toe, net om te sien hoe daardie duur lipstiffie oor die vyf oorblywende eiers in die kombuis geverf word. Ek wou huil. En toe lag. En toe weer huil. Hoe bepaal mens werklik die koste van ouerskap?
Ek was net besig om goed te onderskei tussen "goeie stilte", soos as kinders rustig slaap byvoorbeeld, en "belaaide stilte", soos as kinders besig is om nonsens aan te jaag, toe ek uitvind ek is swanger met baba nommer 2.
Ek het myself gereed gemaak vir onderbroke slaap, 'n huis waarin een baba skree vir kos en die ander een skree vir aandag. Ek het my duur skoene en blink handsak in die hoogste kas weggesteek en 'n nuwe knip is op die agterdeur geïnstalleer. Doeke is gerangskik, die kamers is geverf, speelgoedrakke is opgesit...
Baba nommer 2 is nou amper 6 jaar oud. En skielik het stilte vir my 'n nuwe betekenis gekry. Nie-Verbaal. 'n Klap in die gesig maak klank. Nie-Verbaal. Ek hoor dan my hart in my keel en ore klop. KloP. kLoP. Nie-Verbaal. Koue water in my gesig. Toiletwater. Moet wees, want dit stink. Nie-Verbaal. Stembande wat wel kan hyg en roggel en steun. Klanke wat jou in die nag in sweet laat uitslaan. 'n Geween sonder woorde. 'n Gekners van tande, sonder lettergrepe. Frustrasie sonder vokale. Nie-Verbaal. Agter blink ogies is daar effense begrip, maar die kommunikasie van klank bestaan nie. 'Gebaretaal!', skree die kenners. Hoe wys ek "ek is so jammer" en "ek wil skree" en "sê net iets!" met my vingers (sonder om een belangrike middelvinger te gebruik natuurlik).
Ek smag na stilte. Stilte wat my nie gedwing het na sielkundiges en terapeute en dokters en nog dokters en nog terapeute toe nie. Stilte wat my nie daagliks probeer verwurg met vingers van depressie en frustrasie en woede en angs en skaamte en haat en ag, alles nie. Ek kry myself nie jammer nie, wel net soms. Meeste van die tyd beur en stu ek maar net deur elke dag. Daar is goeie dae. Meer slegte dae, maar dis die goeie dae wat my hoop gee. Ek weet nie hoe die toekoms lyk nie. Ek wil nie daaraan dink nie.
Ek weet ek moet nou opstaan, vleis uithaal vir aandete, die tandarts bel want my man het 'n pyn in die kiestand, my oudste by die skool gaan haal en ja, Buks het al weer op die stoep gepoef. Die lewe gaan aan. En al is ek verbaal, bly ek maar stil.
Ware Verhaal. 2025. Victoria, Australië. Emigrant.
Comments