Pille en Brille
- Mar 23
- 3 min read

Hy was as kleuter reeds 'n kreatiewe kind. Die bank was 'n seerowerskip en die kussings het tentakels gehad wat ten alle koste getem moes word. 'n Ou lap uit die kombuislaai het 'n kopdoek geword en uit 'n ou rek is 'n oogklap gevorm. [Camcolit, 400mg, 1 tablet, 2 keer per dag].
Ek het dikwels in stille verwondering gesit en kyk hoe 'n handoek 'n toorkunstenaar se toga word, 'n paplepel die stok waaruit 'n haas uit 'n ou pet getrek moes word. Die woorde is gebore uit 'n wonderwêreld wat dikwels net in kinderkoppe bestaan [Arizofy, 5mg, 1 tablet, twee keer per dag]. Een Woensdag moes ek maar net aanvaar dat ek 'n wit bloes moes afstaan aan die wetenskaplike navorser wat sjampoe en Sunlight in 'n sjampanjeglas meng, kompleet met veiligheidsbrille wat hy iewers opgediep het [Haloperidol, 1.5mg, 1 tablet, twee keer per dag]. In 'n kinderlyf het 'n rugbyspeler, Masterchef-meester, skaapboer, motorfietsrenjaer, feniks, ruimtewesen, en ja, selfs 'n dominee geskuil. As ek 'n serp of tafeldoek of reënjas gesoek het, kon ek maar weet dit het iewers in sy kamer opgeeïndig, waar dit omskep is in 'n tasbare realiteit van 'n karakter wat hy onophoudelik gesoek het [Menograine, 0.0025mg, 1 tablet twee keer per dag].
Dit het begin met "ag, hy is so oulik" en "kyk hoe kreatief" en "wat 'n wonderlike verbeelding", maar dit het verander in "bietjie onvanpas" en "vreemd vir sy ouderdom" en "bly liewer weg." Eers was dit agter gebakte hande, toe deure, en privaat-sms'e, maar in 'n klein dorpie word so iets baie vinnig die gemeenskap se narratief [Cadiatev, 2mg, 1 tablet, een keer per dag]. Ek kyk anderpad, koop maar 'n paar ruimtevaarder-brille, en druk sy lyfie styf vas nadat hy die eetkamerstoel tot op die maan gevlieg het. Ek ignoreer die ongemak by die kerk, rol my oë vir die skoolhoof se voorstelle, en skree in my vuis in plaas daarvan om die vuis teen daai vieslike vrou in Spar se gesig te slaan. Ek sit my eie, metaforiese brille op, want dan sien ek reënboë en nie storms nie [Lithobid, 300 mg, 1 tablet, 3 keer per dag].
My sonbrille is stukkend. Dit was 'n wapen vir 'n wolwejagter. My leesbrille is weg. Deur 'n brandweerman gebruik om 'n kat uit 'n boom te red. My tweede paar sonbrille is gekraak. Krieketbal wat eintlik 'n atomiese aanval op die skaduwee in die gang was. Die dokter gebruik sy middelvinger om sy bril nader teen sy oë te druk [Atomoxetine, 18mg, 1 tablet, een keer per dag]. Maak nie saak deur hoeveel brille ek kyk nie, ek sien niks. Niks maak sin nie. Niks het kleur nie. Niks se lyne vloei inmekaar tog nog niks en niks niks. Ek slaap nie [Melatonin, 20mg, soos nodig... ek het dit altyd nodig].
Ek weet nie waar sy voorskrifte eindig en myne begin nie. Ek weet nie meer wie se brille is wie s'n nie. Is dit my ma se gehekelde baadjie wat oor die kraan in die tuin hang? Is dit die bakkie se sleutels in die wasbak? Is dit 'n gebreekte televisie-kontrole wat teen die stortmuur vasgeplak is met kougom? [Escitalopram, 10 mg, 1 tablet, 1 keer per dag] Daar was 'n tyd wat ek nie eers 'n magnesium-aanvulling wou vat nie. Ek het gedink suiker en gluten is die skoorsoekers in my spens. Nou is my lewe vasgevang tussen brille en pille. En ek is nie seker waar om te kyk of te sluk nie. So ek lê maar op die seerowerskip en bid vir 'n oplossing [Psalm, 1-150 versies, soos ek onthou].
[Ware verhaal, Noordwes, Suid-Afrika, iewers tussen 2015 en nou]
Comments