top of page

Om te spring

  • May 3
  • 3 min read

Ek kyk na die karre en mense wat soos miere in die straat warrel. Vanaf die 12de verdieping lyk hulle werklik klein en nietig. Ek maak my oë toe en dink aan die vryheid wat die wind teen my wange sal vryf as ek sou spring. Ek wonder of dit sal seer wees. Die oomblik wat jou lyf die sement tref. En is dit seerder as die wete dat jou kind nie die vermoë het om te kan lag nie? Voel jy as jou bene breek? Is dit erger as die oordeel in jou man se oë as jou drie-jarige eenvoudig nie wil ophou skree nie? Hoe voel dit as jou ribbes deur jou hart druk? Is dit dieselfde as wat jy wil gil as die dokter sê jy moet aanvaar dat jou kind nooit selfversorgend sal wees nie?


Ek wonder wie die gemors sal skoonmaak as ek sou besluit om te spring. Gaan my brein oopbars soos ‘n waterballon? Spat teen die muur? Die gedagte laat my glimlag, want ek weet dit sal my terapeut nou na sy swart en rooi potlood laat gryp en hy sal verwoedelik notas maak. Die frons tussen sy wilde wenkbroue sal verdiep en die kuiltjie in sy ken sal begin klop. Hy gaan wonder of ek ernstig is en of ek sommer net praat. Ek wonder ook. Ek wil spring en uitvind... amper soos FAFO (f*ck around and find out), maar met 'n baie meer besliste einde.


In die woonstel langsaan word kos gemaak. Ek ruik naeltjies. Ek dink aan my Ouma. Sou sy spring? Seker nie. Sy het haar eie brood gebak. Sy het handgemaakte voorskote gedra en nooit gekla oor 'n vuil kombuis nie. Ek dink nie sy het ooit donker kringe onder haar oë gehad nie. Sy was nou waarvan die Bybel sou praat as 'n "deugsame vrou". Sy sou nie wou spring nie, want sy was sterker as ek. Dalk is dit sosiale media se skuld. Dalk het my pa my nie hard genoeg gewetter as kind nie. Dalk het die stad my sag gemaak. Dalk is die verlossing regtig te vind op die sypaadjie doer onder.


Ek hoor skielik die dominee uit Prediker 3:1 lees... iets van elke ding het sy tyd en daar is 'n tyd om te leef en 'n tyd om te sterf. Dis nie asof ek regtig leef nie, so kan ek maar sterf? Kan ek maar spring? Gaan die dominee my 'n begrafnis toestaan of sal ek soos die swart skaap van die kerk-familie veras moet word, want moord is sonde en selfmoord is ook moord en my ma sal my mos nooit vergewe nie en my man sal dan alleen na die kind moet kyk...


My ma. Sal sy verstaan as ek spring? Sal sy huil, maar in haar binneste regtig verstaan? Wat moet sy in elk geval eintlik verstaan? Dat ek sukkel? Enige poephol (hoekom bly autocorrect dit na people verander? Miskien is meeste people dalk ook poepholle?) kan sien ek sukkel. Ek kom nie die mas op nie. Ek huil meer as wat ek slaap. My oë is wild, my hart nog wilder. Ek wil spring.


Maar ek is te bang. Vir die fisiese seer. Vir die gemors wat ek moontlik kan maak. Vir wie na my kind gaan kyk. Vir wat die kerkmense gaan sê. So nou droom ek maar van vlerke.


Droom. 2026.

Dallas, VSA.

Diagnose: DMDD, ADHD, SCD


Comments


bottom of page