top of page

Om dit te sê

  • May 12
  • 2 min read

Hy het nooit ophou huil nie. Hy het geborsvoed vir 20 minute, maar die keelklanke het tussen elke sluk my oordrom geslaan. En dan het hy geskree tot hy so moeg was dat hy nie meer die slaap kon keer nie. Maar net vir 20 minute op ‘n slag. Dan het hy weer gegil.

Ek wou al soos Sylvia Plath my kop in die oond druk. Nie om iemand te traumatiseer of soos Griet in haar sprokie in ‘n kakkerlak vas te kyk nie, maar om te weet of dit stiller sou wees daarbinne. Die yskas het niks gehelp nie. Ook nie om binne die kar, binne die motorhuis te sit, terwyl Luciano Pavarotti elke vesel in my liggaam probeer vol sing nie. Nie eers die agterhuisie in die tuin, tussen dooie kaktusse, agter ongebruikte grawe het gehelp nie. Daai huil het my elke asemteug geword.

Stadig het ek geleer om Friends te kyk met onderskrifte aan. Ek het The Office en Bones en Grey’s Anatomy gekyk met ‘n skreeuende baba iewers in die huis. Bose QuietComfort 2 was die geskenk “aan my”, “van my” en as niemand anders by die huis was nie, het daardie klank-kansellerende wonderwerk van oorfone my hart weer op ritme laat klop. Daar is niks so naar soos die kol op jou maag wat gevorm word deur ‘n baba wat eenvoudig nie.wil.stilbly.nie.

Ek wou so graag van daardie mooi foto’s neem elke maand. Julle weet seker waarvan ek praat. Die kombersie wat vertel: 1 maand oud. Dan 2 maande. En 3. Maar ek het nie een enkele foto van ‘n baba wat nie sy gesig trek soos ‘n marmot met maagpyn nie. Rooi in die gesig en ‘n oop bekkie wat ek weet ek wil soen, maar nie kan nie.

Sestien dokters. Koliek. Spesialiste. Refluks. Toetse. Allergie. Hospitaalbesoeke. Oorstimulasie. Boererate. Panado. Homeopatiese olie. Nog dokters. Ek het alles gehoor. Maar niks wat ek wou hoor nie. Niks wat ‘n oplossing gebied het nie. Op dag 281 het die verligting gekom.

Soos ‘n baie ryp puisie wat eindelik oopgebars het en nou dreineer sodat die inflammasie kan genees. Soos ‘n kritiese kwartaal van konstipasie wat leeggeloop word deur ‘n paar aalwynpille en ‘n liter pruimsap. Soos ‘n reeks gasborrels wat uit jou buik bars as jy ‘n hele glas yskoue Coke op ‘n warm somersdag in sekondes afgesluk het. Soos ‘n “amen” aan die einde van ‘n baie baie baie lang gebed op ‘n Sondagoggend as jy in die middelste ry vasgevang is en jy ‘n piepie so groot soos ‘n vendusie-os het. Soos silwerskoon beddegoed na ‘n warm stort na ‘n lang, koue wintersdag buite. Verligting.

“NSS”. Neuro Sensitiewe Sindroom. Dis nie al nie en dis seker nie die korrekte mediese term wat die dokter in 2005 gebruik het nie, maar dit het verligting gebring. Moenie die baba toedraai nie. Moenie onnodig aan hom vat nie. Moenie vel tot vel kontak forseer nie. En skielik het die huil ‘n gemurmur geword. Roggels. En eindelik was dit stil. Salig stil. Dit het lank gevat vir my om dit hardop te sê: Neuro-Diversiteit. Niks sou ooit weer dieselfde wees nie. Maar dit was daai “sê” wat my laat huil het. Van verligting.

Ware verhaal.

Cederberge, Suid-Afrika. 2005.

Diagnose: NSS en ander.

Comments


bottom of page