'n Gewone Droom

Die tee in my hand is al lankal koud. Rondom die tafel sit my vriendinne. Hulle stemme meng met die geklink van teekoppies en die reuk van varsgebakte skons.
"Ansie, jy moes hom op die rugbyveld gesien het Saterdag," spog Melinda, haar oë blink. "’n Regte rammetjie-rugby-speler. En die Wiskunde-toets van Vrydag? Almal in die klas het gesukkel, maar hy het tagtig persent gekry!"
Elréne lag en vee ’n krummel van haar lip af. "Moenie eers praat nie, myne oefen al weke lank vir die redenaars. En vanaand is daar nog kooroefening ook. Ek weet nie hoe ek by alles gaan uitkom nie."
Hulle kla oor die besige skedules, oor die modder wat hulle uit skolerugbysokkies moet was, oor die pannekoeke wat hulle moet bak vir die skoolbasaar. Dis nie grootpraat nie. Dis nie spog op 'n lelike manier nie. Dis sommer net deel in mekaar se vreugde met so titseltjie trots. Maar mooi. En iewers diep in my maag draai ’n skerp, ysige knoop van jaloesie. Ek glimlag, ek knik, maar my keel is toegetrek.Hulle kla oor die dinge wat ek sal sterf om te hê.
My negejarige seuntjie is in dieselfde skool. Maar hy sing nie in die koor nie. Hy hardloop nie agter ’n ovaal bal aan nie. Terwyl hulle kinders dink oor Vrydag se Wiskunde-toets, sit my seun vasgevang in ’n wêreld waarheen ek hom skaars kan volg. Sy enigste belangstelling is die ruimte. Mars. Alfa Centauri. Pluto. NASA. Gisteraand het ek gehuil toe ek ’n foto van die Rooi Planeet op my sosiale media sien. Ek wil letterlik kots as ek nog een ding van die ruimte moet hoor. Ek wil nie meer weet van kraters of wentelbale nie. Ek wil praat oor ’n bloedneus op die sportveld, of ’n simpel geveg oor huiswerk. Ek wil praat oor iets... normaals.
In plaas daarvan dat ek vanaand modder uit rugbysokkies was, weet ek reeds wat op my wag. Ek gaan beddegoed ruil. Weer. Dit gebeur ten minste ses aande ’n week, al is hy al nege. Daar is geen glorie in die reuk van urine om tweeuur in die oggend nie. Daar is geen medalje vir die honderdste liter Ensure-melk wat ek moet aanmaak nie, net omdat dit die enigste manier is om te verseker sy lyfgie kry enige voedingswaarde in nie.
My daaglikse roetine is ’n mynveld. Ek mag nie kla as hy weier om sy blou hemp aan te trek nie, want daardie spesifieke materiaal voel vir hom soos skuurpapier teen sy vel. As ek druk, bars die storm los. En daardie storms is donker. Dit is nie bloot ’n tantrum nie; dit is intense angsaanvalle. Dit is onbeheerbare gille wat deur die mure sny, en tye van pure aggressie waar sy eie lyf vir hom te nou raak.
Ek sit hier by my vriendinne en ek voel soos ’n buitestaander op ’n vreemde planeet—dalk presies hoe my seun elke dag voel. My groot droom is nie dat hy die hoofseun word of die goue medalje wen nie. My droom is soveel kleiner, en tog soveel groter. Ek droom van ’n dag waar hy vir my kyk, my hand vat, en net vir een minuut lank rustig is in sy eie vel. Ek droom van die chaos van ’n normale skoolweek.
Tot dan maak ek die Ensure-melk aan, was ek die beddegoed, en hou ek sy hand vas te midde van die gille. Want hy is myne, selfs al is ons drome ligjare uitmekaar.
Droom. 2025. Suid-Afrika.
Diagnose: Outisme.
Comments