Liewe Kind
- May 19
- 3 min read

Ek skryf vandag hierdie brief vir jou, selfs al is jy dalk nog te jonk om al die woorde te verstaan. Ek skryf dit omdat my hart propvol is, en ek wil hê jy moet eendag weet wat binne-in my aangaan. Ek moet vandag teenoor jou eerlik wees oor iets wat my baie swaar laat voel. Soms raak ek vreeslik gefrustreerd. Daardie frustrasie is nie omdat ek vir jou kwaad is nie, maar omdat ek myself so magteloos voel. Dit breek my hart om te erken dat ek jou dikwels net nie verstaan nie.
Jou wêreld werk so anders as myne. Soms kyk ek na jou as jy oorweldig is deur klanke of ligte wat vir my normaal voel, maar wat vir jou soos 'n fisiese aanval klink. Ek raak moedeloos as ons moet haas, maar jy vries of weier om jou skoene aan te trek omdat die nate teen jou vel verkeerd voel. Dit frustreer my as ek vir jou 'n vraag vra en jy kyk regdeur my, asof my stem net agtergrondgeraas is. Wanneer jy weens 'n oorprikkeling ineenstort en huil, voel ek heeltemal magteloos. Ek probeer die regte dinge sê of doen, maar dit voel asof ons twee verskillende tale praat. Ek wens ek kon in jou kop inklim net om te sien hoe die wêreld vir jou lyk, sodat ek jou beter kan beskerm.
Hierdie las voel dikwels nog swaarder omdat ek alleen voel daarin en daaronder. Ek sukkel om ander mense—familie, vriende en vreemdelinge in die winkel—te laat verstaan waardeur ons gaan. Hulle sien net 'n kind wat nie luister nie of 'n ma wat nie dissiplineer nie. Hulle kyk met oordeel, en my woorde skiet tekort om aan hulle te verduidelik dat jou brein bloot anders bedraad is. Dit voel asof ek konstant vir jou moet veg, maar terselfdertyd moet verduidelik, en ek is eerlik: ek weet nie hoe nie. Ek probeer, maar dit voel die heeltyd of ek baklei teen wind en teen dinge wat ek nie kan sien of hoor of voel nie. Ek veg verbete teen iets, maar ek is nie seker wat nie.
In my donkerste oomblikke bring dit my by vrae wat my bang maak. Ek wonder soms hoe God dit kan toelaat. Waarom moes die lewe vir jou soveel moeiliker en meer intens wees as vir ander kinders? Waarom moes Hy vir my hierdie reuse taak gee terwyl Hy geweet het hoe swak en onbevoeg ek gaan voel? Dit voel soms onregverdig, en ek worstel met daardie stilte van Bo wanneer ek vir antwoorde of vir 'n bietjie verligting vra.
Maar ten spyte van my vrae, my frustrasie en my trane, wil ek hê jy moet hierdie een ding baie mooi hoor: my frustrasie verander niks aan my diepe liefde vir jou nie. Jy is uniek, jy is pragtig, en jy sien die wêreld op 'n manier waarby ek nog baie kan leer. Miskien het God my juis gekies omdat Hy geweet het ek sal nooit opgee nie, selfs al verstaan ek nie alles nie.
Ek belowe jou dat ek nie sal ophou probeer nie. Ek sal aanhou leer, aanhou luister (selfs as jy sonder woorde praat), en elke dag veg om die ma te wees wat jy verdien. Ons leer saam, tree vir tree.
Jy is my hele hart, presies net soos jy is.
Baie liefde,
Mamma
Ware Verhaal. 2026.
Kaap, Suid-Afrika.
Diagnose: Autisme.
Comments