top of page

Die genade van 'n glimlag

  • May 9
  • 3 min read

Ek drink my koffie en die trane stroom oor my wange. My sestienjarige sit wydsbeen op die mat en speel Lego. Hy is in sy eie wêreld, baie ver verwyder van die huis waar ons nou sit. Ek huil sonder klank, terwyl ek sien hoe ‘n trein of worshond uit blokkies gevorm word. 

Kyk, ek wil nie meer kwyl van my sestienjarige se mond afvee nie. Ek wil nie nog chicken nuggets maak nie, al weet ek hy gaan niks anders eet nie. Ek wil nie die toilet vir die derde keer skoonmaak nie. Ek verstaan hy wil self piepie, maar hy sukkel om te mik. Ek wil nie nee sê vir die vrouens van Bybelstudie nie, maar ek het net eenvoudig nie genoeg krag om geduld om vir hulle te glimlag vandag nie. Ek sukkel deesdae om te glimlag. Dis ‘n kuns wat ek lankal reeds bemeester het. Om te kan glimlag. 


Ek het jare gelede, toe my seun nog ‘n baba was, gehoor hoe iemand sê dat my glimlag nie my oë bereik nie. Toe het ek vir ure voor die spieël staan en oefen. Ek het my lippe om allerhande maniere gevorm om te kyk wat die verskil is. Die sukses lê in jou wange. As jy jou wange strem as jy glimlag, verskyn kreukels om jou oë. Mense neem dan makliker aan dat jou glimlag opreg is, want jou oë lag saam. Vals? Miskien. Makliker? Beslis. 

Dis makliker om te glimlag vir vreemdelinge en vriende as hulle vra hoe dit gaan. Niemand wil eintlik regtig die waarheid weet nie. En om eerlik te wees, na 16 jaar gaan dit nie altyd meer sleg nie. Ek het aangepas by ‘n wêreld van ‘n neurodiverse kind. Ek het aanvaar dat sekere dinge my nooit beskore sal wees nie, soos skoolkonserte, matriekafskeid en vroeë Saterdae langs ‘n rugbyveld. Ek is nie meer kwaad of teleurgesteld nie. Ek het aanvaar. Dit maak egter nie die alledaagse sommer net maklik nie. 


My skoonsus het verlede jaar geboorte geskenk aan hul eersteling. Die foto’s op die familiegroep is ongelooflik mooi. Baba is perfek gevorm en mooi verby. Die video’s word met opregtheid gedeel. Baba rol om. Baba druk haar tone in eie mond. Baba glimlag as sy haar pa sien. Baba lag as die maltese poedel haar in die nek probeer lek. En ek is so so so bly vir hulle en dankbaar vir gesondheid. En tog moet ek die jaloesie wat in my hart rondkruip erken. Ek is jaloers oor ek nie my kind sien oopbek lag as hy my sien nie. Ek is hartseer as ek dink aan die handjies wat om ‘n moedernek hang en wat ek nooit sal voel nie. Dis nie ‘n jammergat-houding nie. Dis nie dat ek my kind minder lief het nie. Dis net die wete dat ek sekere dinge nie sal ervaar of sien of hoor nie. En dit sal seker nooit oukei wees nie, maar my glimlag sal dit nooit weggee nie. 

Maar vandag het iets gebeur wat my wêreld tot stilstand geruk het. Terwyl my kind so sit en blou blokkies soek om op mekaar te druk, het hy vir ‘n oomblik opgekyk… na my gekyk… en geglimlag. Net skrams. Maar ek kon sweer die glimlag het sy oë bereik. Ek het terug geglimlag, terwyl my binnegoed gebewe het van opwinding. Vandag was ‘n goeie dag. ‘n Dag wat trane van vreugde verdien. 

Ware Verhaal. 2025. 

Vancouver, Kanada. 

Diagnose: Austisme.


Comments


bottom of page