top of page

Die Blou Beker

  • Mar 20
  • 3 min read

Updated: Mar 23

Iewers, lank, lank gelede het ek vir my ma 'n blou beker gegee vir Moedersdag. Of dalk was dit Kersfees. Of dalk het ek dit sommer by een van my laerskool se entrepreneursdae gekoop. Dalk was daar grillerige jellie-swiets in wat deur vuil kinderhande, wat wriemel van bakterieë, met liefde, in bekers gegooi en toe op 'n basaar verkoop is. Julle weet waarvan ek praat. 'n Fondsinsameling vir iemand se rolstoel, of goiter-operasie, of nuwe afdak wat deur die hael verwoes is. Hoe die blou beker ookal sy plek tot in my ma se kombuiskas gevind het, ontgaan my nou, maar ek het wel die ongelooflikste herinneringe wat aan daardie blou beker klou.


Ek onthou hoe my dierbare Mamma daardie blou beker vol ysblokkies en tee gemaak het op 'n somersdag. Dan het sy oor die ogiesdraad heining met tannie Bybie van langsaan gestaan en praat (en so klein bietjie geskinder, maar ek wil nie hê julle moet sleg dink van my ma nie). Daai blou beker het gehelp as ek wou modderkoekies bak in die agtertuin, maar het ook koffie vir my pa aangedra as hy die Ford se olie moes aftap. Daar was al roosmaryn uit die tuin in die blou beker gebêre... en kleingeld. Ek weet nie hoekom ek onthou dat daar eens op 'n tyd 'n hele handvol kleingeld in daardie beker was nie, maar nou ja... daar is die gedagte nou op papier.


As tiener het ek nie veel aandag gegee aan die beker nie. Hy was maar altyd in die kas. En dan in die skottelgoedwasser en in die sitkamer en op Ma se bedkassie. Daai einste beker het 'n koffievlek op Ouma Stef se gehekelde lappie gelos en nie eers die voorlesing van Psalm 23 het onmiddelike vergifnis gebied nie. Ek is koshuis toe met daai beker opgerol in 'n waslappie. Ek het Chemie 101 tot 303 deurgeworstel met daai beker as anker. 'n Simbool dat ek eintlik enigiets kan doen. Ek het vir my toekomstige (en nou eks-) man hoendersop in daardie beker aangedra toe hy verkoue gehad het. Ek het vir my man (nou eks) sjokolade gesmelt in daardie beker sodat ons koekies daarin kon druk. Dit was 'n fiasko, want die sjokolade het nie lank genoeg gesmelt gebly nie en ag, dit was so half metafories dat die huwelik ook sou stol.


Ek sit nou en kyk na die blou beker. Die skerwe lê op die vloer. Ek wil huil, maar my trane is op. Ek is so gedehidreer dat ek nie eers kan spoeg of kan kots of kan sluk nie. My outistiese nege-jarige seun het in 'n wrede spel van "ek haat jou" en uitbarsting sy vuis teen die muur stukkend geslaan, toe my met die vleismes gegooi, en die beker was die derde slagoffer van vandag se "episode". Ekskuus, vierde: muur, vuis, ek, beker.


Dis net na 8 in die oggend, ek het nog nie 'n bra aangetrek nie, ek moes drie keer in die nag opstaan om vir hom water te vat, te gaan piepie, en seker te maak hy slaap darem. Ek het 'n halwe (blou) beker se koffie gedrink, nog nie my tande geborsel nie, maar nou moet ek seker vir die buurvrou bel om te sê "Jammer vir die lawaai. Moenie bekommer nie, alles is ok." Maar alles is nie ok nie. Ek is nie ok nie. Maar ek moet skoonmaak, want sy pa (toe nog nie my eks-man nie) gaan oor 30 minute by die huis wees (nagskof) en dan moet hierdie chaos onder beheer wees, anders het ek twee histeriese mans in die huis.


Ek sien hoe die laaste koffie oor die glasskerf van die beker drup. Ek is skielik gefassineerd met hoe vloeistof beweeg. Die blou van die beker lyk skielik vir my oud. En ek wonder hoekom niemand nog ooit die beker weggegooi het nie. Dis nie 'n mooi beker nie. Prakties. Maar nie mooi nie. En nou is hy stukkend. Ek wonder of ek hom sal kan plak. Ek kry lag vir myself, want geen gom in die wêreld gaan die beker weer bruikbaar maak nie. Ek word die beker. Ek sien hoe ek blou stukkies word in 'n mosaîek-kunswerk, wat met liefdevolle, sagte handjies aanmekaargesit word. Wie weet? Moedersdag is immers om die draai.

[Ware verhaal. Middelburg,Suid-Afrika, 1993]

[Diagnose: ADHD, outisme, PDA, DMDD]


Comments


bottom of page