top of page

Adrian in aksie

Sep 8
4 min read

"Kalmte is ’n besluit." Ek giggel as ek die kaartjie teen die aansteekbord in die hoof se kantoor raaklees. Die persoon wat dit uitgedink het, het duidelik nog nooit vir Adrian ontmoet nie. En die hoof leef op 'n planeet sonder neurodiverse kinders as sy dink dit is die waarheid. Adrian is nege jaar oud, het die glimlag van ’n engel, die energie van ’n kernreaktor en presies nul persent impulsbeheer. Waar ander kinders ’n dinkproses het wat sê: “As ek dit doen, gaan dit seermaak,” werk Adrian se brein anders. Dit sê bloot: “Doen dit nou!” En dan gebeur dit. Vir hom is kalmte allermins 'n besluit. Dis skaars 'n opsie.


My lewe as Adrian se ma is ’n mengsel van konstante waaksaamheid, ligte paniekaanvalle en lagbuie. Dikwels alles in dieselfde sekonde. Ek is skaars veertig, tog is ek grys. Ek lewe op koffie en genade. En Rice Krispies op die vloer. Laat ek verduidelik...

Gisteroggend. My kombuis. Adrian het stip na die boks Rice Krispies gestaar. Ek kon die ratte in sy kop sien draai. Voor ek kon keer of vra of waarsku, het hy die boks gegryp, dit bo-op sy kop omgekeer en soos ’n besetene deur die kombuis begin hardloop terwyl hy skree: “Dit reën graan, Halleluja!” Die honde was in hul noppies, die kombuisvloer was ’n rampgebied, en Adrian het my ingelig dat hy net wou hoor hoe die “snap, crackle en pop” klink as mens daarop trap. Dit klink blykbaar soos ’n ontploffing in ’n borrelplastiek-fabriek. Koffie en genade. Dis wat my deur die dag dra.


Adrian sien nie hindernisse nie; hy sien uitdagings. Verlede maand was ons by die plaaslike hardewarewinkel. Dit is ’n gevaarlike plek vir ’n kind sonder ’n rempedaal in sy brein. Ek het net een sekonde weggekyk om na die prys van verf te kyk. In daardie sekonde het Adrian besluit die reuse-piramide van verfblikke lyk soos Jenga. Voor ek kon skree of waarsku, het hy die onderste blik uitgetrek. Die res is geskiedenis. Twintig blikke heldergeel padverf het oor die gangvloer gerol. Gelukkig het die deksels gehou, maar Adrian se verduideliking was onskuldig: “Mamma, ek wou net kyk of hulle almal terselfdertyd kan stop.” Ons mag vir eers nie weer in daardie winkel kom nie. As ek dus wil verf koop moet ek buite ons woongebied na kleur loop soek.


Tog is die hardewarewinkel niks in vergelyking met die voorval by die openbare swembad nie. Dit was ’n warm Saterdagmiddag. Adrian het op die rand van die hoë duikplank gestaan. Hy mag nie eers daar gewees het nie, maar sy impulse het hom soontoe gedryf voor die lewensredder sy fluitjie kon blaas. Adrian het nie net geduik nie. Nee, hy het besluit om sy eie weergawe van ’n Superman-vlug te doen. Halfpad deur die lug het hy besef hy dra nog sy splinternuwe, baie duur tekkies en sy sonbril. Hy het in die lug probeer omdraai, sy arms geswaai soos ’n voël wat vlieglesse kry, en met die hardste maagplat-slag in die geskiedenis van die munisipale swembad geland. Die hele swembad het stilgeword. Ek het my asem opgehou, gereed om in te spring vir ’n reddingspoging. Adrian het egter bobaas boontoe gekom, sy sonbril reguit gedruk (wat wonderbaar hier nog op sy gesig was), sy duime opgesteek en geskree: “Tien uit tien vir die landing!” Die lewensredder het gelyk asof hy ’n vroeë aftrede oorweeg.


Dit is hierdie oomblikke wat my hare grys maak. Sy impulse neem hom soms na plekke wat my hart laat gaan staan. Soos die dag toe hy besluit het om die huiskat, Snuffels, te leer vlieg. Snuffels is ’n oorgewig Persiese kat wat dink sy enigste taak in die lewe is om te slaap. Adrian het egter besluit Snuffels het potensiaal as ’n helikopter. Hy het die kat aan sy voorpote vasgehou en hom in die rondte begin swaai. Dit het geëindig in ’n simfonie van gille, ’n baie woedende kat op die gordynreling en Adrian wat gelyk het of hy met ’n bende doringdrade geveg het. Toe ek hom vra hoekom hy dit gedoen het, het hy deur sy trane gehuil: “Maar Mamma, hy het gelyk of hy verveeld is!”


Ons het ook al die brandweer moes bel. Nie omdat die huis aan die brand was nie, maar omdat Adrian se nuuskierigheid oor die wasgoeddrom hm vooruit gehardloop het. Hy het besluit om te kyk of hy binne-in die plastiekdrom kan pas om weg te kruip vir sy sussie. Hy het ingepas, maar sy bene het vasgehaak. Toe ek in die kamer kom, het die drom op sy sy gelê en deur die kamer gerol met twee bene wat by die bokant uitsteek. Hy het gekorrel soos ’n skilpad op spoed. Ons moes die brandweermanne kry om die drom met spesiale skêre oop te sny. Adrian het vir die brandweermanne vertel hy oefen om ’n Transformer te word. Hulle het vir hom ’n plakker gegee; ek het vir my koffie gemaak met drie lepels suiker.


Dit is uitputtend. Ek gaan slaap elke aand met ’n lyf wat voel asof ek ’n marathon gehardloop het. Maar te midde van al die chaos, die gevaarlike toertjies en die duisend troeteldier-reddingsoperasies, is daar ’n onskuld en ’n suiwerheid in hom wat my hart laat smag. Wanneer Adrian saans uiteindelik stilraak—en sy brein uiteindelik afskakel—sit ek op die rand van sy bed. Ek kyk na sy gesiggie wat nou so rustig lyk, sonder enige impulse wat hom rondjaag.


Dan dink ek aan hoe hy vandag vir my ’n modderkoekie gebring het omdat hy gedink het ek lyk honger, of hoe hy die buurman se bleskop met sonskerm gesmeer het “sodat die oom nie brand nie.” Adrian het dalk nie ’n rempedaal nie, maar hy het die grootste hart van enige kind wat ek ken. Sy impulse mag my dalk eendag in ’n vroeë graf dwing, maar tot dan is dit die mees opwindende, mees humoristiese en mees liefdevolle rit van my lewe. Ek sal my klein warrelwind vir niks in die wêreld verruil nie—solank ek net weet waar die pleisters en die noodhulptas is. En die koffie natuurlik.


Ware verhaal. 2026.

Amsterdam,Nederland.

Diagnose: ADHD, Impulsiwiteit, Emosionel Reguleringsafwyking.

Comments


bottom of page