top of page

Moeg

  • Apr 25
  • 3 min read

Updated: Apr 29

Daar is moeg en dan is daar m.o.e.g. Ek was al telkemale in my lewe moeg. Na vier (of twaalf?) pienk, aarbei-gegeurde, gevaarlike botteltjies vol vodka en soda en 4 ure se slaap het ek ‘n CIL201 vraestel op universiteit gaan skryf. Ek was moeg. Tydens my swangerskap het ek amper aan die slaap geraak terwyl ek besig was om kerrie en rys te maak. Let wel, ek het voor die stoof gestaan, gewapen met ‘n houtlepel en ‘n boksie Rajah kerriepoeier, toe my oë net eenvoudig toegeslaan het. Ek het vele kere wakker geword as gevolg van die kwyl wat teen my ken afloop, ironies genoeg met die boek “What to expect when expecting” oor my gesig gevou. 


Ek was al so moeg dat ek die gebruikte teesakkie in die yskas gegooi het. Ek het al ‘n homp babapoeier in die wasmasjien gebruik as seeppoeier. Ek het al my tande probeer borsel met shampoe en ja, ek was al so moeg dat ek eers in Checkers besef het ek het twee verskillende skoene aan. As ek moeg is sukkel ek om te konsentreer. Ek bly dus weg van amptelike dokumentasie, aanlyn-inkopies, banksake, en ek vermy die gebruik van swaar masjinerie, soos die papiertjie in die medikasie my dikwels waarsku. Gelukkig het ek nie ‘n trekker of hyskraan in die tuin nie, want ek weet nie of ek daardie versoeking sou kon weerstaan nie. Of is dit om die weersoeking te verstaan? Dalk is ek net moeg, maar alles lyk nou skielik verkeerd. En reg. Op dieselfde tyd. 


Ek was al so moeg dat iemand my gevra het of ek “pienk oog” het. Nee. My bindvlies is nie ontsteek nie, ek het net min geslaap en nou lyk dit of ek my sklera (die wit deel van die oog) in ‘n publieke toilet gaan was het en nou die draer is van een of ander afskuwelike virus. Dit is wat gebeur as jy ‘n somtotaal van 91 minute geslaap het. Die rede is nie die twaalf koppies koffie wat ek gister gedrink het nie. My man snork so hard dat dit ‘n 4.5 op die Richterskaal meet. Sy snork laat die vensterrame tril en dril en ek sweer dit is hoekom die staanhorlosie in die sitkamer tyd verloor. Die bure se kat is in ‘n konstante toestand van jimpelgeit. Dit is ‘n geskree en gegil soos hy kattemaai (en ek wil regtig graag eerder ‘n N gebruik in plaas van ‘n M, maar my ma het my reg grootgemaak) onder die harige bolle in die omgewing. Daar is ‘n peuter van amper 3 wat elke 15 minute honger, dors, moeg, moeilik, of verveeld is. Daar is ‘n papegaai wat al drie woorde wat hy ken, oefen tussen 02:11 en 03:44 in die oggend. Daar is ‘n 6-jarige wat wakker word in die nag en dan kap-kap-kap-kap-kap-kap teen sy kopstuk. Nie hard nie, net “druppende kraan irriterend hard”-genoeg sodat ek nie kan slaap nie. En nes ek insluimer... “Mamma, ek het gepiepie” of “Mamma, boetie lê op die vloer” of “Kan ek koffie maak?” of “Waar is die sleutel van die agterdeur?” of “Mamma...”

Ek is nie moeg nie. Ek is m.o.e.g. Die tipe moeg wat nie met slaap opgelos kan word nie. Want die familie verstaan nie hoekom my 6-jarige steeds nie praat nie. “Jy laat te veel toe / Jy moenie hom verstaan nie / Jy moet hom ignoreer tot hy praat / Jy moet hom by ‘n spraakterapeut uitkry.” Ek is m.o.e.g. want medisyne help net met sekere simptome en daar is nie stroop vir bondels wasgoed en bakkies melk wat op die mat val en ‘n kind wat sy eie tong wil insluk en ‘n hond wat die tv se kontrole eet en krag om ‘n 6-jarige se doek te ruil nie. Ek vermy die buurvrou, want die klik van haar tong, steel die laaste nerf van die senuwee op my linkerbrein. Ek kyk anderpad by die kerk, want agter sonbrille voel ek hoe die oordeel op my (enigste) romp se soom val. Ek is m.o.e.g. want as ander vrouens ‘n dag by die spa kan geniet vir hulle veertigste, moet ek koue koffie uit ‘n beker sonder oor drink, en ek mag nie kla nie, want ek is by die huis, want ek kan nie werk nie, want om ‘n neurodiverse kind by ‘n skool in te skryf kos ‘n fortuin, want hy kan nie in ‘n normale skool funksioneer nie, want my man moet werk... Ek is m.o.e.g. 

Maar ek mag nie kla nie. Die “Here het my gekies”. Ek mag nie ophou nie. “Jy is ‘n superma”. Ek mag nie huil nie. “Ek weet nie of ek dit sou kon doen nie”. Ek mag nie moeg wees nie. “Jy is darem heeldag by die huis.” 

Ek is nie moeg nie. Ek is gatvol. 


Ware verhaal. 2026. Dubai. 

Diagnose: NVLD, ASD

Comments


bottom of page