Lieg
- May 6
- 3 min read

"Hi! Lekker om jou te sien! Hoe gaan dit?"
"Hello! Dit gaan so goed en met jou?"
Dit gaan nie regtig goed nie, Katryn. Dit gaan eintlik kak. My dogter is nou uit skool nommer 3 geskors... hierdie keer omdat sy haar hand onder 'n ander meisie se rok ingedruk het. Ek vermoed my man speel "gholf" in die ontvangsdame se slaapkamer. Ek het R2871 in my bankrekening en ek moet ten minste nog R4000 se pille koop die maand.
"Ag, maar jy is so bevoorreg om jou kind by die huis te kan onderrig."
"Die tyd gaan net te vinnig verby, ek wil elke oomblik uitkoop."
Dit was nie werklik my keuse nie, Susan. Geen skool in die hele Pretoria sien kans om my neuro-diverse dogter te probeer onderrig nie. Klasse is te groot, onderwysers is oorwerk, daar is nie genoeg ondersteuning en geld en kennis nie, en natuurlik is my kind se fassinasie met ander kinders se liggame onvanpas, onnatuurlik en gevaarlik. Maar hier is ons nou: 'n Google-kurrikulum, knersende tande en die enigste opsie vir 'n moontlike kennisbasis.
"Jy lyk so goed en gesond! Wat is jou geheim?"
"Ag, ek stap nou elke middag en het maar my porsies kleiner gemaak." Kots, Linda. Kots. Ek was vir die laaste ses maande konstant naar van bekommernis, kon geen kos in my lyf hou nie. Ek slaap nooit langer as 2 ure nie, my hormone is demone, my vagina is droog en die slaappille gee my maagwerkings. Ek is siek, maar daar is nie 'n diagnose nie. Net goeie grimering Ouma se naaldwerkmasjien wat klere kan afwerk.
"Ek hoor jy gaan verder studeer? Dit is wonderlik!"
"Ja, noudat ek by die huis is, moet ek seker maak dat ek myself intellektueel uitdaag."
Weet jy wat kos studies, Annelien? Ek doen 'n (gratis) kursus op YouTube en een of ander (gratis) "kollege" wat net in die donker gange van die internet bestaan. Daar is nie 'n kwalifikasie nie. Geen sertifikaat of diploma wat wag nie. Al waarvoor ek hoop en bid is antwoorde... of dalk net 'n bietjie begrip vir die redelike gemors wat in my kind se kop aangaan, want die hemel hoor my... ek weet nie meer nie.
"Julle moenie te lank wag vir nommer 2 nie! Ons word nie jonger nie."
"Nee wat, ek dink ons is tevrede met ons wonderwerkie. Sy is vir ons genoeg."
Liewe aarde, Benita! Ek kry liewer daagliks 'n kolonoskopie as om nog 'n keer deur nege maande van swangerskap-hel te gaan. Ek haat elke oomblik van gil en skree en onsekerheid. Ek verstaan nie my eie kind nie. Elke situasie is 'n skuldgevoel van wat as ek langer geborsvoed het... of as ek net dit of dat gedoen het... Nee, ek sny myself eerder tussen die tone met vuil koerantpapier en bid vir infeksie as wat ek nog 'n kind in hierdie lewe bring.
"Wees nou eerlik, gaan dit oukei met jou? Cope jy?"
"Ek is eerlik, daar is moeilike dae, maar ek dink dinge is nou gevestig. Ons roetine en ritme is reg en dit help beslis."
Ek is nie oukei nie. Ek is heeltemal fucked up. Ek weet nie eers hoe mens jou kind lief het en haat op dieselfde tyd nie. Ek kyk in die spieël net om seker te maak mense sien nie die angs onder my oë of die vrees om my mond nie (dankie Estee Lauder). Die huis is net skoon as ek weet iemand kom koffie drink, wat ek ook al hoe minder toelaat. Daar is 'n pak meel vol miet in die kas... en die viennas het wurms in... en daar is muf in die hoeke van die stort... maar ek gee net eenvoudig nie om nie. Ek cope nie. Ek het net geleer om te lieg. Met oorgawe.
Spreuke 6:16-19: "Ses dinge haat die Here, ja, sewe is vir Hom 'n gruwel: hoogmoedige oë, 'n leuenagtige tong..."
Kolossense 3:9-10: "Moenie vir mekaar lieg nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het"
Psalm 101:7: "Wie bedrog pleeg, sal nie in my huis woon nie; wie leuens vertel, sal nie voor my oë standhou nie."
Efesiërs 4:25: "Daarom, lê die leuen af en spreek die waarheid met julle naaste..."
Om te lieg of nie te lieg nie. Nou DAAR is die ongemaklike vraag. Nie ek of die wêreld is egter reg vir die waarheid nie. Ek droom van 'n plek waar ek Bybels kan leef.
Johannesburg, Suid Afrika. 2026.
Diagnose: PPS, Ontkoppeling, SVD (onder andere)
Comments