As die PULS voor IM ingespan word
Sommige kinders spring voor hulle kyk.
Het jy al ooit gesien hoe ’n kind ’n glas melk omstamp, nie omdat hulle lomp is nie, maar omdat hulle blitsvinnig daarna gegryp het? Of miskien ken jy ’n kind wat gedurig dinge uitblaker, in die middel van ’n sin, sonder om te kyk of iemand anders praat? Of miskien ken jy die kind wat sommer bo-op die kombuiskas klouter sonder om aan die swaartekrag te dink. Hy hardloop agter die bal aan sonder om te kyk of daar 'n kar in die pad aankom. Sy spring in die water sonder om te toets of die water dalk te koud kan wees. IMPULS... nie PULSIM nie, tog is impulsiewe gedrag presies dit: aksie voor assessering. Doen voor dink.

Vir baie mense lyk hierdie optrede bloot na "stoute" of "ongemanierde" gedrag. In die wêreld van neurodiversiteit – veral by kinders met ADHD of sekere leer- en ontwikkelingsprofiele – is impulsiwiteit egter iets heeltemal anders. Dit is nie ’n gebrek aan dissipline nie; dit is ’n brein wat geprogrammeer is om te reageer vóór dit kan reflekteer.
Wat Gebeur in 'n Impulsiewe Brein?
Om impulsiwiteit te verstaan, kan ons dink aan die brein as ’n motor. ’n Tipiese brein het ’n petrolpedaal (wat jou aanspoor om dinge te doen) en ’n betroubare stel remme (wat jou laat stop en dink: "Is dit ’n goeie idee?").
By ’n neurodiverse kind wat met impulsiwiteit worstel, werk die petrolpedaal uitstekend, maar die remme is ’n bietjie los. Die boodskap van die brein af na die liggaam word so vinnig gestuur dat die kind reeds die daad gedoen het teen die tyd dat die "dink-stadium" inskop. Hulle voel dikwels self sleg of verbaas oor die gevolge van hulle eie aksies, want hulle wou nie doelbewus moeilikheid maak nie.
Hoe Lyk Impulsiwiteit in die Praktyk?
Impulsiwiteit manifesteer nie net in groot aksies soos om van dinge af te spring nie. Dit beïnvloed ’n kind se hele dag op verskillende maniere:
’n Dag in die lewe van Miané (8):
Miané sit in die klas en die juffrou vra ’n opwindende vraag. Miané weet die antwoord! Die reël is om jou hand op te steek, maar voor sy haarself kan stop, skree sy die antwoord hardop uit. ’n Minuut later sien sy haar maatjie se nuwe, blink pen op die bank langsaan. Sonder om te dink, gryp sy dit om daarna te kyk. Die maatjie raak kwaad, en die juffrou gee vir Miané ’n streng kyk. Miané krimp ineen – sy het nie probeer om die klas te ontwrig of te steel nie; haar brein het bloot te vinnig beweeg.
Algemene tekens van impulsiwiteit:
Moeilike wagbeurt: Sukkel om in ’n ry te staan of te wag vir hulle beurt tydens speletjies.
Mondelinge impulsiwiteit: Antwoorde uitblaker, mense in die rede val, of dinge sê wat onsensitief klink sonder die opset om te skade te doen.
Fisiese risiko's: Hardloop skielik in die straat in, klim op gevaarlike plekke, of raak aan dinge wat warm of skerp is.
Sosiale botsings: Gryp speelgoed by ander kinders af of reageer fisies (soos stamp of stoot) wanneer hulle gefrustreerd is.
Hoe Kan Ons ’n Kind in die Oomblik Help?
Wanneer ’n kind impulsief optree, help dit min om te skree: "Waarom het jy dit gedoen?" Die eerlike antwoord is gewoonlik: "Ek weet nie." Probeer eerder hierdie pro-aktiewe stappe:
Druk die "Pouse"-knoppie: In plaas van ’n harde straf, bring die kind fisies na jou toe. Sit ’n hand liggies op hul skouer (indien hulle gemaklik is daarmee) om hulle te help grondves en te "rem".
Bespreek die "Herhaling" (Rewind): Vra kalm: "Jou brein het baie vinnig beweeg. Kom ons draai die film terug. Wat moes ons eintlik eerste gedoen het?" Dit oefen die brein om die stappe te volg.
Hou die emosionele uitbarsting dop: Baie impulsiewe kinders ervaar groot skuldgevoelens nadat hulle iets omgestamp of 'n fout gemaak het. Fokus eers op die konneksie en kalmte voordat jy die skade regmaak.
Wenke om Makliker Daarmee Saam te Leef
Jy kan nie ’n kind se brein oornag verander nie, maar jy kan wel strukture bou wat as "eksterne remme" dien:
Visualiseer die reëls: Impulsiewe kinders vergeet vinnig gesproke reëls. Gebruik prentjies of kort flitskaarte by die deur of op die tafel (bv. ’n prentjie van ’n hand wat opsteek, of voete wat wag).
Die "Stop, Dink, Doen"-speletjie: Oefen hierdie konsep gereeld in ’n rustige omgewing deur middel van speletjies soos Rooi Lig, Groen Lig. Dit help om die brein se reaksietyd doelbewus te vertraag.
Gee vir hulle ’n werk: As jy weet jou kind gaan sukkel om stil te staan in die ry by die kruidenierswarewinkel, gee vir hulle ’n taak. Laat hulle die mandjie vashou, of produkte van die rak afhaal. Dit kanaliseer die energie.
Prys die "Stop"-oomblikke: Wanneer jy sien jou kind wou vinnig reageer, maar het vir een sekonde gehuiwer, prys hulle uitspattig! "Ek het gesien hoe graag jy daardie koekie wou gryp, maar jy het eers gevra. Dit was wonderlike rem-werk!"
Geduld Met Die Petrolpedaal
Om met ’n impulsiewe kind saam te leef, vra geweldig baie energie en geduld. Maar as ons besef dat hierdie kinders dikwels ook die mees entoesiastiese, kreatiewe en vinnige denkers is, kry die "petrolpedaal" skielik ’n nuwe betekenis. Deur hulle te help om hul eie remme sterker te maak – sonder om hul natuurlike vonk dood te maak – gee ons vir hulle die beste wegspringplek in die lewe.
Onderrig. 2026.
Comments